Des Erasmus
Des Erasmus

Dromend op ‘n goue spoor

SMN 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Ontdek toe mos nou die aand goud hier in Klein Windhoek se Sam Nujoma Drive. Nou nie daar waar die werkloosheidsmark se aanhoudende pyne met alewige slote en dongas oor strate verlig moet word nie. Nee, sommer daar waar die teer ’n swart trui oor Moeder Aarde trek.

“My kind, dis koud daarbuite ...”

“Al gegewetjie vir die tjorrie is ’n stilhouplek so lyf-aan ’n oorlaaide boerebakkie. Donner en ’n half het Izak van die Namib altyd vir ’n 1,5 ton-vragwa gesê. Klim toe uit om eintlik met die vrag te gesels, maar kry toe eers een en later ’n tweede mens daar.

Met my aanstaltes vra die vrou: “Is jy polisie?”

“Nee.”

“Of inspektor van die wat?”

“Nee, sommer mens. Sommer mens wat van so ’n bakkie hou. Mag ek ’n bietjie kyk?”

Haar swye is die jawoord.

Jare van wind en reën het reeds gevreet aan ’n stuk sinkplaat wat stewig oor die traliewerk hang. Bloudraad deur skroefgate en om ysters is die waarborg dat dit op ’n tweespoor so vas sal bly. Seker om in boerehande omvorm te word in ’n afskorting vir ’n varkhok, ’n hanslam of ’n bronstige kalkoenmannetjie. Of nee. Halfskelm onder ’n sak is daar ’n piep. Met die effense optel wys die straatlig agt jong kuikens in ’n halfkaal stadium tussen verdwynende dons en blywende weer.

“Ostrop. Ostrop of so iets,” sê die trotse vrou terwyl sekuriteit by twyfel in haar vreemdheid oorneem.

“Ons gaan laat broei. Hul plekkie is teen die kap en onder die sak, want vannag gaan dit koud word op ons pad.”

Sakke bruinsuiker word deur koffers van die stank van paraffien geskei. Nog ’n karton kan net vol rantsoene wees met sakkies Springboktwak wat bo-op wys.

Veemedisyne, ’n skaapskêr, ’n kwas en ’n blikkie verf.

Die vrou vra om verskoning dat sy ’n stukkie eet terwyl haar man in die winkel is.

“Hier in julle se Windhoek kan ‘n mens mos nie ’n vrag so oop laat staan nie.

“Kom Elifas terug, is dit my beurt in die winkel vir die vergeet-goedjies. Daar bly mos altyd ’n ietsie oor vir ’n laaste stop. Het mos vandag julle se plek platgestap agter die beste pryse aan. Hierdie twee voete voel soos jellie, maar in die ry sal dit beter gaan. Die geers maak so ’n warm plek op die plaat waar my voete rus.”

Op dié kom ’n man uitgestap, groet en praat net aan.

Van die voorste sitplek haal hy ’n bottel toegedraai in ’n paar dae vantevore se Republikein.

“Net swart koffie. Vat ’n sluk,” bied hy aan.

Maar verkennersoë dwaal lankal weer verder langs die vrag af. Daar is ’n petrolkan met ’n kinkel-sloug. In stewige plastiek skyn vier bruinbrode en een witte deur.

“Die growwes is die werkers s’n. Hulle vra dit so,” verduidelik die man so amper verskonend aan.

En daar is ’n sagte vat aan ’n rol doringdraad vasgepen onder ’n stuk pyp van staal.

“Met hierdie grondkwessie. Hierdie nasionaliseringsbesigheid. Is julle boere nog seker van jul grond? Ek bedoel, droom julle nog van ’n nageslag soos die sterre aan die hemel of die sand van die see?”

Die man dink lank.

Dan vra hy seker: “Droom ons dan nog in Namibië?” Die vrou is terug. Die egpaar groet en die vuurwa se agt perde brul.

Terwyl die stertliggies al hoe kleiner in die nag word, staan ’n mens alleen op dieselfde plek. Sommer so sonder om te dink.

Namibië het nog sy drome.

Al is dit net oor die gister van baie jare.

Daar lê goud op die swart straat waar ’n boerebakkie pas gestaan het. – 15 Julie 1994

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer