Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

Droogte... al wéér

Hester Sê MAAR NET
Yandi Du Plessis
’n Mens moet nooit sê nooit weer nie, want dis moeilikheid soek. Soos uittart, of aanroep.

Nadat ons deur sewe jaar se droogte geworstel het, of nee, eintlik op ons nerwe deurgeskuur het, het ons in 2021 en 2022 goed reën gekry. Ons het genoeg gekry. Ons kon weer asemhaal. Die diere en die veld ook. Ons kon voor begin en dit was goed genoeg vir ons.

Gedurende die droogtejare het ek my hart vele kere leeggetap deur my woorde op papier te sit. My rekenaarskerm is my sielkundige, dominee, dokter en beste vriend. Ek kan eerlik skryf oor my gevoelens. Dit laat voel my ligter. En so ’n klein bietjie beter. Daar is geen oordeel wanneer ek my hartseer so onbeskaamd uitskryf nie, al huil ek. Of vloek ek. Maar na jare daarvan het ek gesê ek wil asseblief tog nie weer oor die droogte skryf nie. Nóóit weer nie. Dis te erg. Te uitputtend. Te aaklig. Te seer. En ek het dwarsdeur die laaste seisoen by my woord gehou en my daarvan weerhou, want dit was ’n moeilike hekkie om oor te gaan. Maar helaas.

Met die ingaan van 2023 was ons opgewonde. Die voorspellings was baie belowend, dit het groot en wyd in Suid-Afrika gereën en die natuur se tekens wat daar moes wees, was daar. Die miere het gewerk. Die vinke het nes gebou. Die slange het geloop. En ons het gewag. Toe kom dit nie (ek blameer vir Freddy, die sikloon wat vir ons gewys het wat deursettingsvermoë nou eintlik is). En daar kry ons die minste reën nog ooit op hierdie plaas. Eintlik niks.

En tog, hierdie een jaar se droogte het harder geslaan as die vorige een van sewe jaar, want niks is soos dit daardie tyd was nie. Niks nie. Ons kuddes is so uitgedun met die vorige droogte dat ons met baie minder diere hierdie droogte moes ingaan. Ons het probeer om die kuddes weer op te bou tydens die twee jaar wat dit wel gereën het, wat beteken ons inkomste was baie minder, omdat ons diere teruggehou het. Toe hierdie een kom, moes ons hulle weer laat gaan. Al die mooiste ooitjies wat my boer so sorgsaam uitgekies het, moes lorrie klim. Ek kan vir niemand verduidelik wat dit aan jou doen om te sien hoe jou boer met sy hoed in sy hand staan en die lorrie agterna kyk waarop sy spog-ooie staan nie. Dit knak jou. En dit knak hom meer.

Almal het mos gelyk droogte. Almal verkoop gelyk wanneer die besef kom dat dit regtig nie meer gaan kom reën nie, want soos boere mos maar is, sal hulle tot die bitter einde aanhou glo dat dit nog kom. Hulle bly probeer hulself oortuig: Die reën is net laat. Die reën kom as die maan draai. Dit kom Paasnaweek. Die reën moet nog kom groet. En toe dit nie gebeur nie, word die mark oorlaai en die pryse val tot die laagste in jare. Dis ’n verloor-verloor storie hierdie.

En hier sit ek maar weer voor my sielkundige en moet ek my woorde sluk van “nooit weer nie”, want hoe moet ek môre doen wat gedoen moet word as ek nie die hartseer uit my skryf nie? Hoe moet ek moed inpraat en aanhou glimlag en sterk wees as dit vir my voel asof ek sand inasem?

Hier staan ons nou weer voor ’n nuwe reënseisoen, en my binneste bewe.

Mag hierdie seisoen vir ons almal goed wees. Vir almal en alles. Mag dit reën sodat die veld kan herstel, sodat die bosse kan blaar maak en dat die diere oorvloedig kos sal hê. Ek bid dit vir almal, en ook vir ons.

*Gasskrywer

- [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!