Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Duimsuig en dergelike dinge

Elvira Hattingh
“Daar is watsenaam!” gil sy en wuif vir hom om by ons aan die tafel te kom sit. Hy het ʼn baba op die skoot, duidelik pappa se “mini-me”.

“Hoe gaan dit met jou, wat doen vroulief nou?” klets sy.

Weerpraatjies. Reënpraatjies. Ditjies en datjies.

Baba kou aan naartjieskyfies en toe die koffie kom, doop hy dit én sy vingertjies daarin. Dis net grootmense wat pretensies het oor watter smake saamgaan en watter nie. So bly stil, grootmens. Naartjies en koffie smaak mos lekker.

Watsenaam sê sy vroulief sit daar in die haarsalon en hy babysit gou.

“Jy weet, deesdae se plaasvrouens is so ladida, die voorskoot en pantoffels weggebêre. Dis ook maar net as dit goed gaan met die geldsake, meen hy. Dis juis hoekom hy gedink het hy bederf haar maar, die mielie-oes doen reeds goed.

Dit gáán goed op Kameeldoringdraai. Beespryse is leeusterk en met die huidige dieselpryse kom jy net elke tweede week dorp toe.

“Petrolprysverlagings, verbeel jou! Wéét die regering dan nie dit is diesel wat die lorries, trekkers en treine laat loop nie!”

Watsenaam duimsuig verder aan kleindorpie-politiek, sy boerderyplanne en oorlog-filosofieë oor Rusland en Oekraïne.

Baba drup melk uit sy beker oral oor die tafel, baba jel sy hare met koffie-naartjiesop. Wat ook al hom besig hou, meen Watsenaam. “Mamma sal kom uitsort as sy en haar nuwe kapsel nou net daar uitstap,” klets Watsenaam.

Die kelner gooi gister se koerante op die tafel, Watsenaam red dit van ʼn melkstorting en sy vra of hy gehoor het van die olifante wat nou weer op sy buurplaas deurgebreek en ʼn hele pos verwoes het.

“Dis al ou nuus man, jy klink nou soos ‘n Covid-advertensie,” meen Watsenaam.

Sy raak ernstig.

“Manage jy régtig? Ek meen, die aanpassing van Engeland tot terug in Afrika. . . Jy vlieg nie meer êries nie, jy brul nou trekkerenjins.”

Sy woeste rooi wenkbroue wip op, meteens is hy die ewebeeld van sy pa Jan.

“Jy meen ek was ‘n poeierhol!” lag Watsenaam. “Wel ja, ek sou sê die Afrika-son kou ‘n bietjie hard aan my wit, Heathrow-velletjie. En al die Afrikaans en braaivleis help die kids taai word,” lag hy.

“Hul voete raak ook al hard van al die duwweltjies.

“Kameeldoringdraai is in goeie hande, ek belowe.” Hy vryf oor sy baard. “By the way, ek dink pa Jan lê nou met ʼn breë glimlag in sy graf langs mamma.

“Die korrelkop, dat hy nou moes gaan staan en Covid kry op sy oudag. Ek is seker dit was net ʼn slenter om ons weer terug te laat kom!”

Watsenaam vryf oor sy jongste se ewe rooi kuif.

“Ek sien hier kom ʼn kapsel aan. Ons moet die ander kinders by die skool gaan haal! Genoeg duimgesuig vir een dag,” lag hy. “Koebaai!”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer