Des Erasmus
Des Erasmus

Een stampie te veel

Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
Iewers op sy lyfie het gestaan 323. Ek het immer gewonder waarvoor dit staan. My effense tegniese kennis het my verseker dat dit nie sy “cc” is nie.

Toe het ’n dief my kom leer. Hy kom stamp jou so ’n drie keer, so ’n twee keer, so ’n drie keer. Siedaar! 323! En die laaste stampie is gister in die pos.

Dit was ’n krok-karretjie toe ek hom gekoop het – stampie nommer 1. Die klopwinkel het sy knoppe teruggetik en sy duike uitgedruk. Toe is dit ’n bakgat-karretjie, Stampie 2. Hiervandaan het dit van hand verwissel, maar nie van eienaar nie. Eers ry my meisiekind hom, toe ’n seunskind en nou ’n dief.

Verlede jaar in die eerste week van Desember kom haal ’n dief (of diewe) hom uit waar hy veronderstellenderwys veilig agter slot en grendel en toe deure gestaan het. Knip en breek en voetstoots tot in die straat tot waar die getroue besie brul.

Gaan vertel daardie einste tyd aan die polisie wat gebeur het. Hulle skryf alles in ’n groot boek op. Sedertdien gebeur daar toe niks uit dié oord nie, maar wel iets uit die rigting van Jan Taks. Hy skryf dat ek nie ’n laaisens het vir daardie kar wat ek nie het nie.

Ek verduidelik en ek meen Jan Taks verstaan. Eergister begryp ek hy verstaan nie. Baie amptelik skryf hy dat ek die registrasie van daardie motor moet kanselleer. En hy skryf by, dit sal my nou R51,44 of R61,44 kos (Jan Taks skryf nie mooi nie). Nou hoe nou?

Daardie karretjie was nie verseker nie. Straks was die bybetaling op hedendaagse tariewe hoër as die skade. Gevolglik het die dief my van die ganse waarde beroof. Toe die lisensietyd aanbreek, het ek ten regte van die dief verwag om die karretjie te lisensieer. Hy ry immers daarin rond. Ek kan ook nie ’n voertuig lisensieer wat ek nie het nie. En nou word van my verwag om ’n lisensie van ’n voertuig te kanselleer wat ek nie het nie.

En ek bekyk die R50 plus wat van my verwag word om te betaal, omdat my karretjie gesteel is. ’n Gevolgtrekking begin vorm aanneem. Elke motor wat gesteel en nie opgespoor word nie, beteken op die wyse vir die belastinggaarder so ’n R50. As genoeg motors gesteel en nie teruggevind word nie, kan dit ’n aardige aanvulling tot die staatskas word en kan die begroting selfs klop.

En ek vra myself af of dit nou nie aanmoediging van misdaad is, terwyl ons daarna streef dat dit bekamp moet word nie.

Ek dink nie ek gaan die een betaal nie. Die belastinggaarder kan die dief opspoor en hom maak betaal. Dan kan hy my die man se adres gee. Daar is ook nog ’n sakie waaroor ek met die boef wil praat. Ek soek my 323.

– 2 Oktober 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!