Kristien Kruger
Kristien Kruger

Eet asof jy lief is vir jou liggaam

Kristien Kruger
Ons liggame sê vir ons wanneer ons honger is, net soos ons liggaam vir ons sê wanneer ons moet badkamer toe gaan of wanneer ons koud kry. Waarom hanteer ons dan ons eetgewoontes anders as ons ander natuurlike instinkte?

Ek dink die samelewing het mense gebreinspoel om te glo ons moet ’n spesifieke manier lyk en sosiale media en ander platforms trek ons net wol oor die oë met al die foto’s van mense met perfekte lywe. Ons dink as ons eet en oefen soos daardie persoon, dan gaan ons soos hulle lyk en dan gaan ons uiteindelik gelukkig wees.

In realiteit gaan ons dalk nooit soos daardie persoon lyk nie en gaan ’n streng dieet en intensiewe oefenprogram ons nie gelukkiger maak nie.

Ek is seker die meeste van ons het al vele van die duisende diëte probeer wat beskikbaar is en sê elke Januarie vir onsself dat ons die hierdie jaar die dieet gaan volhou.

As diëte gewerk het, dan sou dit seker teen die tyd al gewerk het. Dit is ongelooflik dat die dieetkultuur aanhoudend groei ten spyte van sy geweldige mislukkingskoers.

Wat as al die antwoorde reeds binne jou is. Klink dit te maklik? Ek weet, maar dink daaraan. Ons liggame sê vir ons wat dit nodig het en as ons leer om daarna te luister, soos wanneer ek honger is en vir wat, moet dit tog ’n verskil maak.

Baie mense dink seker nou as ek myself toelaat om net te eet wat ek wil, dan gaan ek heeltemal handuitruk.

Dit is dalk waar, maar dit is net omdat ons onsself só beperk en wanneer ons die geleentheid kry om van ’n dieet of gesonde leefstyl los te breek, dan veroorsaak dit ’n kosrebellie.

Ek weet nie van julle nie, maar wanneer ek op ’n dieet is, smag ek meer as gewoonlik na al die “slegte” kos.

Wanneer ons wel ons beheptheid met kos laat vaar, ophou om kalorieë te tel en die horlosie dop te hou wanneer jy mag eet, dan kan ons dalk beter by ons liggame aanpas en net dít vir ons liggame gee wat dit nodig het.

Ons fokus kan na binne verskuif, eerder as om beïnvloed te word deur dit wat buite aangaan. Jy sou nie luister as iemand vir jou sê wanneer om badkamer toe te gaan nie.

Die vangplek is, en dit is dalk moeiliker om te aanvaar, dat die liggaam wat die natuur vir jou gegee het, dalk nie daardie maer lyfie is waarna jy smag nie. Jou gesonde, natuurlike liggaam lyk anders as wat jy jouself voorgestel het, maar dit is weer eens daardie buite invloede wat vir jou sê hoe jy veronderstel is om te lyk. Wat as ons dit kan uitskakel en net tevrede met ons liggame kan wees. Wat as ons kan ontslae raak van al die beheptheid en haat teenoor ons gewig? Dink net hoe bevrydend sal dit nie voel nie.

Iemand het nou die dag vir my iets gesê wat ek nooit besef het nie – nie alle oorgewig mense is ongesond nie. Dit was natuurlik altyd my persepsie, maar dit is net weer eens ’n voorbeeld van hoe ons gebreinspoel word om te dink ekstra vetrolletjies is sleg.

Probeer ten minste een keer om intuïtief te eet en na jou liggaam te luister. Aan die begin gaan dit moeilik wees, maar dit raak al hoe makliker.

Bevry jouself van kalorieë tel, om jouself te beperk en die getal op die skaal. Eet asof jy lief is vir jou liggaam.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!