No Image Caption

Ek draai nie meer in die rook nie

Otis Daniels
Ons word nie met gewoontes gebore nie, ons leer die goed aan.

Ek was ’n kettingroker vir baie jare nadat ek dié slegte gewoonte as jongeling op skool aangeleer het.

Ek was vasgevang in die kloue van Lexington, Paul Revere, Gunston, om maar net ’n paar “brands” te noem en dit het ’n un-Lucky Strike gekos om my van hulle te verlos en my rooklus vir altyd te blus.

“Moet nooit sê nooit nie,” is ek herinner toe ek die dag aangekondig het dat ek nooit weer wil rook nie. Dit was so 20 jaar gelede en lank voor die tyd toe sigaretpakkies met aaklige prentjies versier was om mense af te skrik en teen die gesondheidsgevare wat dié stinkerige gewoonte inhou, te waarsku.

Ek het tuberkulose opgedoen. My kort asem het my laat besef dat elke teug aan ’n sigaret my eindelik beroof van die kosbare suurstof wat my longe nodig het en dit is besig om my lewe stelselmatig te verwoes.

Vir my eie onthalwe en gesondheid, moes ek noodgedwonge van dampies ontslae raak.

Met behandeling het ek my stryd teen tuberkulose gewen. Sonder “gwaais” (straatnaam vir sigarette) het my asemhaling stelselmatig verbeter en die knaende hoes was ook mettertyd iets van die verlede.

Die aaklige rookreuk wat aan jou klere kleef en op jou asem rondsweef was tot niet.

Verdere aanmoediging het gekom in die vorm van ’n aanlyn artikel wat my daarop gewys het as jy ’n pakkie teen sowat N$35 (destyds se prys) per dag rook, bestee jy sowat N$12 770 per jaar aan sigarette. Die somme het in my kop begin klop. Met geen sigarette op my inkopielys en in my lewe nie, het ek sente gespaar en my gesondheid ’n groot hupstoot gegee. Nogals ’n duur les om te leer.

Die rooklus was egter nog daar en het vir my gekom fluister dat “okapyp”-rokery ’n goeie plaasvervanger vir sigarette is. Jy rook mos net “once in a while”.

Toe ek dit probeer, val my niere amper heeltemal plat. Dit was vir my die laaste strooi of spreekwoordelike rook oor my lippe na my longe!

Maar ná pyn en lyding kom mos genesing en bevryding. ’n Elektroniese sigaret kom nie naby my nie!

Ek moet sê, ek was nogals ’n arrogante roker. Ek het nie daarvan gehou om my “gwaai” te nip (dood te maak) wanneer ek in ’n huurmotor geklim het nie.

In ’n tipiese “what goes around comes around”-oomblik plaas ’n roker met sy brandende sigaret hom op die voorste sitplek van ’n huurmotor. Ek kon die aaklige rookreuk nie verdra nie. Dit het teen my sin in my neusgate opgedwarrel waar ek op die agterste sitplek gesit het.

Dit het my laat dink hoe ander nierokers moes gevoel het toe ek dit aan hulle gedoen het.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!