Tielman 1
Tielman 1

Ek en die Ingilse juffrou

Tielman Van Lill
Mens beleef mos in een of ander stadium as blote sterfling, ’n rare en onnodige asook dikwels duur gier en geit.

Die sulkes sal hul nuutgevonde passie met oorgawe beoefen wat heel moontlik sy medemens sal grief of ’n welkome plesiertjie aan ’n individu soos ’n Ingilse juffrou kan verskaf.

Ons het etlike jare gelede vir ’n oornagwegbrekie buite die hoofstad saamgetrek. Brawe Danieltjie van SMN-faam wat ook die courant se gewese redaksiehoof is, staan aan stuur van sake.

Sy plig was om soos Josef van ouds (wat ’n sekere lawwe koning se drome uitgelê het) dieselfde vir ’n spul balhorige joernaliste te doen.

Hy moes SOP-sake herbevestig en opnuut die erns van die saak onder hul aandag bring.

Ek het ’n vae vermoede daai koning se drome was moontlik meer geïnspireer deur sy geliefde papirus-schnapps en papagaaislaaizol wat hy sawens daar op die paleis se dak met een oog op die buurvrou genuttig het.

Elkeen met sy oornagsakkie en ander derglike benodighede kry ’n ruim kamer wat oor die uitgestrekte vlaktes van Hebron uitkyk. Ek raak vir ’n wyle verlore in die panoramas, maar merk onverwags ’n beweging aan my linkerkant. Ek skrik my 180 grade in ’n krul, want ek het my jare laas in ’n vollengte spieël gesien.

Ek is dikker as twee jaar gelede, maar het nie dié tipe spesiale effek verwag nie. Koue sweet slaan op my voorkop uit, want die uwe was nog al die jare pynlik netjies op sy higiëne en voorkoms.

Genadiglik moes ek vinnig glip, want my medetrawante het reeds stelling ingeneem om die SOP-perigheid te bespreek. Terwyl ek oor my toekoms en figuur sit en broei word onduidelikhede helder gemaak.

Kyk, ek was van laerskool af geweldig netjies op myself en het al van toe af ’n spuitdingetjie van Ma Truida gekry om onwelkome reuke op ’n erge warm somersdag hok te slaan.

Dit laat my weer onwillekeurig terugdink aan die BROET-effek. Ja, dis so ’n groen botteltjie wat iewers in die vroeë tagtigerjare hier in Windhoek op die mans losgelaat was. Eers was dit net ’n deodrintjie en onderarmrol wat aangeskaf was. Maar ek veronderstel toe die verskaffer sien daar is ’n BROET-stormloop aan’t ontwikkel, het hy sy hele reeks op die rakke geloods.

Behalwe die deodrintjie en aanrolgeitjie, het sjampoe (dalk ’n konditjionêr ook), haarsprei, skeerrroom, aftersjyf en ’n pikante eau de cologe hul teenwoordigheid aan jong latte soos ek en ander oorgretige teikens geopenbaar.

Ek het die hele spul aangeskaf; en oral waar van toepassing, het ek dit kwistig aangewend. As die BROET-mense my destyds net kon sien (en ruik!) sou hulle onmiddellik vir my ’n lywige kontrak van etlike miljoen as die heel eerste en geskiedkunige BROET-man aangebied het.

So beland ek die dag in die Ingilse klas. Of die juffrou Engelssprekend was, kan ek nie onthou nie.

Maar ek staan voor in die klas langs haar tafel. Ek staan daar in my tieneronskuld en smaail vir my pêlle wat sit en strooi aanjaag, terwyl sy my werk bestudeer. “Tielman,” sê sy. “Yes, ma’m,” sê ek. “What are you wearing?” vra sy tot my verbasing.

My hamstertjie val op sy wieletjie rond terwyl ek probeer kleinkry waar ek wat moet en nie moet dra nie. Ek meen daar is sokkies en ander benodighede, maar ek kry nie die knellende vraagstuk binne enkele sekondes opgelos nie.

“Where ma’m,” vra ek na twee slukke. “Don’t try to be funny with me, you know exactly what I am talking about!” Meer as stomgeslaan kon ek as onskuldige bloedjie nie wees nie. Na juf. Ingils haar duideliker uitgedruk het, kon ek sonder aarsel aan haar verduidlik wat ek “dra”.

“O ok, it smells nice,” sê sy: “I must get my husband some.” Wel ek en BROET het nog ’n langpad gestap, afgewissel met Ouerige-speserye as sterk kompetisie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!