Sanet
Sanet

Ek en sagte kontaklense is nie maatjies nie

Sanet de Swardt
Ek voel ná 34 jaar van kontaklense dra, is ek ’n foendie op dié gebied.

Ek dra al van 14-jarige ouderdom dié wonderlike uitvindsel. Ek weet sommige mense dink jy is ydel om kontaklense te dra, maar as jy op skool is en jy wil aan sport deelneem, dan is kontaklense die wonderlikste uitvindsel op aarde. En daarna is jy so gewoond daaraan dat ’n bril nie meer ’n opsie is nie.

My oë was ongelukkig nooit vir sagte kontaklense geskik nie. Dus moes ek harde kontaklense dra, en om eerlik te wees, het dit met vele uitdagings gekom.

As die wind waai en ’n bietjie stof waai in jou oë, dan voel dit asof iemand ’n rots in jou oog gesit het. En as jy besig is om te bestuur, kan dit ’n lewensgevaarlike situasie raak. Maar andersins het ek geen probleem met harde kontaklense nie, behalwe as ’n kontaklens die dag besluit om sonder jou die wêreld te gaan verken.

Ek dink as ek al die voorvalle met my kontaklense moet neerpen, dan sal ek definitief ’n boek vol kan skryf.

Jy sal dink wanneer jy ’n harde kontaklens laat val, dan sal dit by jou voete of iewers naby jou te lande kom. Kom ek vertel jou, ’n harde kontaklens hop soos ’n wafferse rubberballetjie. Ek het een dag meer as twee ure na my kontaklens gesoek, en wonder bo wonder het ek dit gekry. Maar jy sal my nou nie glo nie, ek het die kontaklens aan die ander kant van die bed gekry. Hoe verduidelik jy dit?

Ek was naby aan histerie omdat dit my enigste kontaklens was, en ek wil sê my oë is redelik swak. So sonder my kontaklense kan ek nie funksioneer nie. Ek het kalm gebly – dis die geheim – en ek het net aangehou soek. Dit gee nuwe betekenis aan “aanhouer wen”.

Die volgende keer wat dié soeknagmerrie my weer te beurt geval het, was jare later. Hierdie keer het ek my kontaklens in ’n volgepakte Land Rover Defender laat val. Ek dink hy het net uit my oog geval. Nou waar begin mens in ’n voertuig soek. Ek het ook ’n paar uur desperaat gesoek en weer ’n wonderwerk beleef. Ek het weer my kontaklens gekry. Ons was op pad Tanzanië toe en die kanse om ’n ander kontaklens op kort kennisgewing te kry, was nul. Mens sou nou dink ek het in daardie stadium al my les geleer om ’n ekstra paar kontaklense by my te hê!

In 2017 het my retina geskeur en op die ou einde moes hulle my lens vervang. Dit het veroorsaak dat ek nie meer ’n harde kontaklens in my regteroog kon dra nie.

Nou dra ek een harde en een sagte kontaklens. Maar omdat ek so gewoond aan harde kontaklense is, gee sagte kontaklense my grys hare. Ek kan nie meer op net my een hand tel hoeveel kere ek ’n sagte kontaklens verloor het nie.

Ek het nou al alles probeer, maar die ronde klewerige dingetjie het ’n wil van sy eie. Ek weet nie wat ek verkeerd doen nie.

Net gisteroggend het ek weer ’n voorval gehad. Ek sit die kontaklens in my oog, ek voel eers, oukei hy is nog daar. Maar toe ek opkyk, toe besef ek iets is verkeerd.

Dít besef ek eers nadat ek die wasbak se prop uitgetrek het. Die eerste ding wat ek in só ’n situasie doen, is om my selfoon nader te hark en die “torch” aan te sit. Die lig se weerkaatsing maak dit heelwat makliker om ’n blink kontaklens te sien.

Met dié dat ek die flitslig oor die wasbak skyn, sien ek iets by die drein se gaatjies. Dis iets wat blink. Julle sal dit weer nie glo nie, maar daar is my kontaklens. Hy klou vir lewe en dood om nie in die drein weggespoel te word nie. Ek was hierdie keer gelukkig om die kontaklens te kry. Maar ek sal definitief ’n plan moet maak. My oog kan nie aanhou om my kontaklense so uit te spoeg nie! – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!