Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Ek het vir jou ’n stapeltjie klippe gepak

Henriette Lamprecht
My liefste R

Ek het vir jou ’n stapeltjie klippe gepak onder die skerp suideson.

Ronde en skurweklippe in die skadu van ’n soveel groter hoop wat hier en daar perfek balanseer op ’n skewe en soms ’n skuinshoek. ’n Onsigbare Hand wat keer dat die balanseertoertjie nie verkeerd loop nie.

Op jou stapeltjie pak ek ’n bossie met wuifgras wat goud skyn as die son se lig dit vang en as jy baie stil is en mooi luister, hoor jy die liedjie van die wind suutjies-suutjies dit roer. Saam met die wuifgras is ’n tak van die bros doringbos se bloeisels, dieselfde kleur as die berge en die rots wanneer die son se strale al hoe langer begin raak. As ’n nagedagte pak ek ’n paar van die witste, kleinste veldklippies langs die wuifgras om die maan se strale te vang.

Vandat jy weg is, is daar dae wat dit voel ek onthou te veel. Dae wat ek voel ek onthou te min. Die ergste is die dae wat ek glad nie wil onthou nie. Want met onthou kom die verskriklike weemoed en ween wat my uitgespoel en o, so broos laat. Sonder vel en met alles en almal wat net aanhou en aanhou skuur.

Dit blyk my weemoedspiere is ten spyte van so baie keer se oefen voor jou weggaan, steeds nie sterk genoeg nie. Die donder weet, hoeveel keer moet ’n mens nou ’n weemoedspier oefen totdat dit sterk bult in verweer teen die aanslae van verlies?

Nou klink ek weer so melankolies en melodramaties, jammer my R. Maar ten spyte van die feit dat ek sedert jou weggaan ’n ander ek is, is ek nog iewers ék.

En kyk, ek en jy kon daai melankolie blootsry! Totdat die snot oor ons wange streep en jy met jou pinkie die stukkie maskara wat die trane afgewas of van vergeet het, uit die hoek van jou oog haal.

Oor jou seuns. Oor ’n boek. Oor ’n fliek. Oor goeters wat vir ons mooi was omdat dit gestroop en eerlik en rou was en ons so blêrrie bly was ons is daarmee gebless. Jy sal bly wees om te weet ek ry melankolie nog steeds bloots. Nie net oor jou weggaan en my onthou dat jy weg is nie, maar oor goeters wat my bless. Die dag nadat ek jou stapeltjieklip-en-bossie onder die rotse gaan los het, hou ek ’n sagte, sagte hand vas en vryf met my growwe duim oor die hobbeltjiepalm. Haar oë kyk, maar sien nie, die donker al ’n jaar deel van haar. Maar sy kyk, tot daar diep-diep waar mens goed wegsteek want uithaal en afstof en in die son laat staan, is vir die dapperes, my linne bly binne. Maar sy kyk, my liefste R, deur jou en binne jou en om jou, met daardie oë wat nie meer kan sien nie.

Net verstommende vrede soos daardie wat beloof word jou verstand te bowe gaan. Wysheid ver verby die Bybel se Salomo. ’n Teenwoordigheid meer suiwer as die skoonste fonteinwater in die Otavi-vallei. Onvoorwaardelike aanvaarding net soos jy is. Ek sweer sy is ’n orakel, my liefste R. En ek verbeel my dis hoe dit moet voel om op God se skoot te sit en Hy met sy arms jou toevou en niks sê nie, net vashou.

Ek hoop regtig jy het ook so sitplek daar waar jy nou is as jy nie in my gedagtes dwaal en my hier help skryf nie. O ja, het jy Hom al gevra oor wat die planne met Trump en Musk is en wat Kamala gaan doen noudat die drukkies met Oprah en poseer saam met George Clooney en die miljoene Swifties haar nie tot in die groot wit huis kon kry nie? En of Hy sien watter gekonkel en korrupsie hier in ons twee se geliefde Afrika aangaan en of die stembus enigsins enigiets ooit gaan verander? Van die kindertjies wat na Hom toe moes gaan wat nou soos klein, stukkende piontjies uitgelewer is aan missiele en bomme en ’n verdomde gekibbel tussen mans oor wie die verste en die langste straal kan piepie en eintlik piepie hulle maar net op hul eie blêrrie voete en in hul eie jaart.

Regtig, my R, ek weet jy het al lankal die leiding daarbo gevat en sit in ’n erestoel langs Hom waar jy beloof het om vir my plek te hou. Jammer dat ek dit vir jou so moeilik maak om my saak te bepleit vir ’n sitplek aan Sy tafel. Dis verdomp moeilik en alleen ondermaans sonder jou. Maar ek probeer. Regtig.

Liefde

H



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 21° | 38° Eenhana: 21° | 29° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 22° | 28° Tsumeb: 22° | 32° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 34° Keetmanshoop: 20° | 35° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 17° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 17° | 32° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 14° | 33° Lilongwe: 20° | 31° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 17° | 22° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 35° Harare: 18° | 31° #REF! #REF!