Ek hou van bewe
Hester Steenkamp – Toe ons jongste drie jaar oud was, het ons by familie in Otjiwarongo gaan kuier. Die groot, potblou swembad het die kinders betower en hulle kon nie genoeg kry daarvan nie. Ons het al ons dae gehad om hulle uit die water te probeer hou. In ’n stadium het my tannie vir Sandri (ons jongste) gesê sy moet nou uitklim, want “kyk hoe bewe jy!”
Sandri het net haar tjoepie stywer vasgegryp en met bewende, blou lippe gesê: “Maar ek hóú van bewe!”
Deesdae bewe ons almal, of ons nou daarvan hou of nie. Ek ook. Ek bewe oor die toestand van ons land, oor die werkloosheidsyfer, oor vuil dorpe en die verwaarloosde kindertjies wat in die strate staan en bedel. Ek bewe oor die mens se onvermoë om basiese reëls te volg en oor daar nie meer gevolge vir verkeerde gedrag is nie. Ek bewe oor kos en brandstof wat so duur raak, oor die oorloë, oor onbeskofte mense en omdat werksetiek skynbaar soos mis voor die son verdwyn het. En oor waansinnige padgebruikers. Ek bewe.
Die jaar snel verby ’n mens en voor jy weet, is dit al weer verby Junie en jy het nog nie eens die eerste drie maande se doelwitte bereik nie. Jy raak bekommerd en paniekerig en moedeloos. En moeg. Dit voel asof al die slegte nuus ons oorweldig en dan begin lyk die wêreld nie meer vir jou mooi nie. Dit voel asof jy nie meer gelukkig is nie.
Maar dan tel ek ’n boek op, soos Sagie se storie van Jan van Tonder, en die wêreld lyk weer mooier om my. Ek luister “Lammergeier” van Neil Sandilands en my hart smelt. Ek hoor die uitbundige lag van kinders wat ’n pap sokkerbal vir mekaar skop en ek sien hoe die bestuurders van amper elke kar wat verby my ry, hulle hande oplig in ’n groet en my lug raak blouer. Jou bewe smelt sommer weg, en skielik onthou jy weer al die wonderlike goed wat jy sien en hoor en ervaar en wat jou asem skoon wegslaan as jy net daaraan dink. Die lewe het my geleer dat dit soms die kleinste goedjies is wat die grootste impak het, want tog, deur alles, is daar goed ook.
Daar is baie dinge in hierdie ou wêreld van ons wat verkeerd is, maar daar is ook baie dinge reg. Ons lag steeds, want in elke dag is daar tog ’n stukkie lag. Ons geniet die klein plesiertjies wat die lewe so mildelik oor ons pad kom strooi, al behels dit soms net ’n pap sokkerbal in ’n stowwerige straat. Die media plaas selde goeie nuus op voorblaaie en in hoofopskrifte, maar dit is daar. Jy moet net gaan soek daarvoor, want dis die dinge wat so onder die radar gebeur wat jou gemoed sal lig en jou weer sal laat voel dat die son op jou gesig en die wind in jou rug is. En gelukkig beskik ons mensdom oor die wonderlike vermoë om humor te sien in al die sinneloosheid wat daagliks om ons gepleeg word.
Die ding is, ek het gesien dat dit eintlik maklik is om gelukkig te wees, maar dan moet jy gelukkig wíl wees. Dis ’n keuse wat jy moet maak. En niemand op hierdie aarde, behalwe jyself, is verantwoordelik vir jou geluk nie. Dis jou eie. Jy moet gaan soek daarvoor, en as jy dit nie kry nie, moet jy dit gaan maak. Want dit is in die maak van geluk waar die lekkerte volstroom vloei. En om ander gelukkig te maak, is die spreekwoordelike kersie op die koek. Om gelukkig te wees is lekker, maar om iemand anders gelukkig te maak, is die beste!
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie