Aldo Horn
Aldo Horn

Ek sê maar net - Wat dink Namibië van ‘Billie Jean’?

Aldo Horn
Aldo Horn ([email protected])

Wat dink Namibië van ‘Billie Jean’?

Die liedjie “Billie Jean” deur Michael Jackson het weer sy pad tot in my Spotify-snitlys gevind. Ek het sommer daarop versot geraak - die ritmiese tromme wat ’n mens onmiddellik herken, die basinstument wat volg, die vingerklappe wat kom en verdwyn, en Jackson se stem wat laer is as gewoonlik en verdubbel word op die dramatiese hoogtepunte van die liedjie.

Ek het artikel ná artikel gaan lees oor hierdie liedjie en beland op "Billie Jean" se Wikipedia-blad op die 1983-topmusieklyste waar die liedjie verskyn het in sy vrystellingsjaar. In die VSA piek dit by nommer een, dieselfde vir die VK, Frankryk, België en Australië. Dit behaal die tweede plek in Swede en Duitsland en nommer drie in Zimbabwe. Toe wonder ek: Watter plek het dit behaal in Namibië?

Ná lyste en lyste wat geen antwoorde bied nie, Google-soektogte wat geen vrae opklaar nie en ’n oomblik van swakheid waarin ek oorweeg om vir ChatGPT te vra, keer ek terug na die 1983-musieklyste op Wikipedia.

Daar sal party lesers wees wat baie vinniger as ek besef het wat die probleem hier is: Watter plek het die liedjie, “Billie Jean”, behaal op die 1983 topmusieklyste van Namibië - die land wat amptelik eers in 1990 begin bestaan het?

En nes die kitaarritme tydens die refrein van “Billie Jean” kon ek nie die feit dat "Billie Jean" ouer as Namibië is uit my kop uit kry nie. Ek kan myself nie ’n wêreld indink waar Namibië nie bestaan nie.

Die vakansie het ons vir familie in Suid-Afrika gaan kuier en ons was ’n paar keer voorgestel as “die Horns van Suidwes”. Selfs as daar gebid word, hoor ons gereeld die woorde, “Dankie dat U die Suidwesters bewaar het op die lang pad hierheen.”

Enige probeerslag om na dié gebed te luister het ná daardie woorde dadelik doodgeloop.

Ek weet nie vir wie daar gebid word, want daar is nie enige “Suidwesters” in ons gesin nie. Dit kan nie eers my ma wees nie, want sy het grootgeword in Orkney en eers in 1992 Namibië toe getrek. Ons is nie Suidwesters nie, ons is Namibiërs.

Natuurlik verstaan ek dat die grond waarop Namibië nou lê, reeds daar was voor ons dit Namibië begin noem het.

My oom wat geveg het in die grensoorlog, het geweier om by ons vakansie in “Suidwes” te kom hou. Dit het jare gevat om hom te oortuig en ná een vakansie hier weier hy om ooit weer sy voete in Suidwes te sit... maar hy is bereid om in Namibië te kom kuier. Dis dieselfde grond, maar nie dieselfde plek nie.

Soos die viool in “Billie Jean” wat eintlik nog altyd daar is, begin dit baie anders voel soos wat die tyd verloop. Dit herinner my effens aan wanneer my kleinniggie vir my ouma vertel dat sy volgende jaar graad vier toe gaan. Ek kan sien hoe my ouma se oë oombliklik glaserig word soos sy die wiskunde probeer doen.

“Standard twee, ouma,” help ek, maar ek weet daardie kleintjie sal haarself nooit as ’n standard tweetjie beskryf nie, sy is ’n graad viertjie!

Die standardsisteem was voor haar tyd.

Tweede plek. Dis die naaste aan ’n antwoord wat ek kon vind op my oorspronklike vraag oor waar “Billie Jean” op die topmusieklys gepiek het. Dit het die tweede plek behaal op Suid-Afrika se topmusieklys in 1983 - toe Namibië nog onder hulle beheer was.

Wel, eintlik het die meeste mense nog nie van Namibië gepraat nie. Baie mense sou gepraat het van Suidwes. Onthou julle so ’n land? Suidwes? Want ek doen nie.

Suidwes was voor my tyd. Ek ken hom nie.

My ouma praat nog partykeer van Suidwes. Ek was baie klein toe ek haar een keer gevra het waar Suidwes is. Sy het vir my probeer vertel dat ek in Suidwes bly. Sy was die Billie Jean wat my probeer oortuig het van haar leuens. “Ha-ah, ouma. Ek bly in Namibië,” het sesjarige ek vir haar gesê.

“The kid is not my son,” sê die spreker in “Billie Jean”. En ek voel presies dieselfde: “Suidwes is nie my land.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 27° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 35° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 18° | 34° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 21° | 38° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 14° | 25° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 19° | 31° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 17° | 30° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 21° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!