Wiesie Kotze
Wiesie Kotze

Ek sê maar net

Mandy Rittmann
Wiesie Kotze

Kinders is nie ‘sommer net’ nie

Voor enigiemand verder lees, wil ek net graag ‘n waarskuwing uitreik aan sensitiewe lesers. Die volgende inligting mag dalk grafies en gedetailleerd oorkom, met spesifieke fokus op vroue se voortplantingsprobleme.

‘n Paar dae gelede bevind ek myself onverwags in die kantoor van ‘n onbekende sonograaf – vir ‘n noodsonar. Hy vra aan my die volgende roetine vraag waarvoor ek hoegenaamd nie gereed was nie:

“ Hoeveel kinders het Mevrou?”

“Ek het twee gehad, ek het nou net een,” antwoord ek deur geknersde tande.

“So dit is dan Mevrou se derde swangerskap hierdie?”

Ek wil sommer vroeg in hierdie storie myself in die rede val. Baie mense glo dat kinders hulself kan grootmaak. ‘n Mens moet net ‘n hele paar hê, dan kyk die grotes na die kleintjies. Ek kan ander sieninge as my eie oor sulke dinge respekteer, maar dit is nie my persoonlike uitkyk op die saak nie en ek weet dat my gevoelens en gedagtes oor hierdie onderwerp waarskynlik nie populêr is nie.

Terug by die sonograaf. Onder die nood omstandighede het ek nie in ‘n redekaweling oor die hoeveelheid vorige swangerskappe betrokke geraak nie en net geknik. Maar die navraag het my gedagtes laat gaan. In der waarheid was dit my vierde swangerskap wat ons op daardie dag vasgestel het nie lewensvatbaar was nie. Nooit gedink ek gaan IN MY LEWE soveel keer swanger word nie.

En hier kom die ‘oversharing’ julle – hou maar solank op lees as dit gaan pla. Voor ons eersgeborene seun, wat vandag ‘n pragtige jong mannetjie is, gesond, sterk en baie eiewys, het ek ‘n baie vroeë miskraam gehad op agt weke. Daarna is Chris gebore, en sonder meer is Mari daarna gebore. Daarna is Mari oorlede en nou staan ons by swangerskap nommer vier en ek wonder hoe ek hier uitgekom het.

Ek is wel oortuig dat omdat die onderwerp iets is waaroor normale mense nie vrylik in die media skryf nie - spesifiek hulle persoonlike ervarings - is dit nie wyd bekend hoe algemeen miskrame, veral in die eerste trimester, werklik is nie. Behalwe nou vir die ou gewoonte dat die saak ‘n staatsgeheim moet wees vir die eerste drie maande vir ingeval iets skeefloop. Daar is dit – bevestiging dat dit meer algemeen is as wat ons dink – maar waaroor baie min mense openlik praat. En die 'nie praat nie', maak ons eintlik as ‘n samelewing dommer oor die onderwerp. Want as ‘n mens dan ‘n eerste vroeë miskraam het – soos in my geval - is dit vir jou ‘n hele groot nuwe vreesaanjaende ding. Wat toe eintlik baie algemeen is.

Die aborsiewet was die laaste paar maande redelik in die nuus en ek het gaan oplees waaroor die groot debat gaan. ‘n Gesprek met iemand in die mediese beroep wat spesifiek gereeld met sulke realiteite gekonfronteer word, het ‘n simpatieke perspektief gelewer op moeders wat sou wou aborteer.

Ook ‘n bietjie agtergrond is gegee daaroor dat die stelsels wat die aborsieprobleem moet ondersteun, hier in Namibië nie werklik funksioneer nie en ouderweds is. Die gunsteling sêding wat ook redelik in Amerika gepropageer word, is: “I need to be able to make a choice about my body.”

Die aborsiewet in Namibië maak voorsiening daarvoor dat indien iemand verkrag is, daar bloedskande plaasgevind het, die swangerskap abnormaal is, of ‘n gevaar vir die moeder se lewe inhou, dit wettig getermineer mag word. Sover ek wel verstaan, is die prosesse waardeur die mense moet gaan om die wettige terminasie te laat plaasvind, verskriklik omslagtig en baie duur – ginekologies konsultasies, tweede doktersopinies en dan selfs wetsgeleerdes word ingesleep by ‘n proses wat baie eenvoudiger kan wees.

Aanneming is ook ‘n onnodig ingewikkelde proses. Alhoewel daar beslis streng kontrole uitgeoefen moet word oor die prosedure, kom dit voor asof die proses nie altyd in die belang van die weeskind is nie. Wat nie in lyn is met die intensie van die spesifieke wetgewing nie, daarvan is ek oortuig.

So ek hoor dat vrouens wat bang is om kinders te baar, eenvoudig oor die landsgrense heen reis en dan ‘n wettige aborsie gaan laat doen in Suid-Afrika. Ek moes nog nooit so iets doen nie, verstaan ook dus nie heeltemal wat so iets dryf of motiveer nie. Die meeste jong meisies is te bang om hulle ouers te vertel dat hulle swanger is. Dan kom die saak te laat uit en die kind moet dan voltermyn gedra word. Hier sê ek – ouers, kan ons probeer om eerstens ons kinders op te voed oor die gevolge van ongehude seks – en ook vir hulle leer dat daar in hierdie lewe wel werklike gevolge is vir onbesonne dade. Tweedens, kan ons met ons kinders die belangrike alhoewel baie ‘awkward’ realiteite deel soos dat daar tydsraamwerke is vir ‘n ‘pil-aborsie’ vs ‘n ‘mediese prosedure-aborsie’ in Suid-Afrika.

Maar oor die “I need to be able to make a choice about my body”-argument wil ek net graag die volgende opinie lug. Liefie, jy hét ‘n keuse oor jou ‘body’ gemaak toe jy saam met iemand vrywillige geslagsverkeer gehad het. Die moontlike gevolge is nie ‘n staatsgeheim nie. Ek het ‘n probleem met ‘n samelewing wat nie verantwoordelikheid vir hul dade wil neem nie en wat net wil hê dat ander hulle probleme wat hul geskep het vir hul moet oplos. Met slagoffers van verkragting en bloedskande, vir julle het ek ongelooflike simpatie en bid dat die nodige wetsontwerpe op die regte plekke hernu word, soos die prosesse ter ondersteuning van sulke gevalle.

Ongelukkig is ek net nog nie oortuig dat die “I need to be able to make a choice about my body”-argument alleen genoeg is vir ‘n nuwe wetsontwerp nie. Sal bitter graag opinies wil hoor as iemand dink hulle kan my oortuig. Dit is nie vir almal ewe maklik om voort te plant nie. Ek glo dat geen lewe wat verwek is of dan nou een wat natuurlik beëindig is, ‘n ongeluk is nie. Dit het ons hierdie jaar in ons eie lewens gesien – ‘n gesonde lewetjie is beëindig sonder meer, sonder aanloop of oorsaak, want dit was haar tyd. Kinders is nie ‘sommer net’ nie. Hulle is ‘n voorreg om te hê en weliswaar elkeen ‘n klein wonderwerkie. Dink net hoe anders sou die samelewing kon wees as dit almal se instelling was teenoor die saak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!