Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

Ek sê maar net

Mandy Rittmann
Hester Steenkamp - Frustrasie ([email protected])

Elke keer as die wind sterk waai, dink ek aan my pa. Hy kon wind nie verdra nie. Ek weet nie waarom nie en hy het ook nie geweet nie. Ek het hom verskeie kere daaroor uitgevra, maar hy kon nooit vir my sê nie. Dis maar net hoe dit was. Die

wind het hom in ’n donker hoek vasgedruk. Hom beklem.

Ek kon dit nie verstaan nie, want ek is so lief vir die wind, want dit laat draai die windpomp wat water gee sodat ek my tuin kan natmaak. Dit waai hoogdrukke weg en maak plek vir vog om in te kom. Dit waai saad tot op sagte kolle waar hulle kan

ontkiem as die tyd reg is. En as die regte wind waai, draai my oë kort-kort horison toe om te kyk of ek nie die eerste wolke gewaar nie. Wind is goed vir my gemoed.

Maar nie vir my pa nie. Hy het elke keer net vooroor gesit met sy hande inmekaar gevleg en het dan sy een duim met die ander een gevryf. Oor en oor en oor. Sy gesels het weggeraak en die lig het uit sy oë verdwyn. Dit het hom depressief

gemaak. Ek het geweet die vrywery is sy manier om die frustrasie te stil wat in hom woed. Daardie gevoel wat jy ervaar wanneer dinge gebeur waarvan jy nie hou nie, maar niks aan kan doen nie, want hoe verjaag jy daardie irritasie wat in jou kook?

My pa het sy duime gevryf en dit het hom kalmer gemaak.

Ons almal het iets wat ons doen om daardie gevoel te probeer hokslaan. Sandri, ons jongste dogter, stamp haar voete. Al vandat sy kon regop staan het sy daardie gewoonte gehad wanneer sy sukkel met iets of ’n emosie ervaar wat sy nie in

woorde kon omsit nie. Sy is nou ’n volwasse vrou, en sy stamp steeds haar voete as sy ergerlik voel. Nooit op ’n uitdagende manier nie, maar dis asof sy iets uit haar wil trap en ek weet dan sy voer ’n innerlike stryd. Nes haar oupa met die wind. Dis ’n uitlaatklep. Tydens haar tienerjare het die voetstampery ’n hoogtepunt bereik.

My ma fluit. Hoe vroliker die deuntjie, hoe dieper is haar moermeter in die rooi. Dan weet ons om katvoet te loop. Sy lyk heel gaaf en praat rustig en kalm, maar ek weet sy is kwaad en geïrriteerd as sy begin fluit. Of daar is iets wat haar binneste omroer wat sy nie in woorde kan of wil uitspreek nie. Sy probeer altyd om daardie gevoel uit haar te fluit.

Trane is weer my uitlaatklep. Ek kan vreeslik lekker en droewig huil totdat my oë nie meer kan fokus nie, my kop pyn en al my maskara op my kussingsloop lê. Ek huil dat ek snik en voel asof niks ooit weer beter gaan raak nie, maar dan raak dit beter en voel ek fisies uitgeput, maar emosioneel rustiger. Die frustrasie loop sommer in strome by my oë uit.

En my man? O, hy sing! Hy sing alles en enige iets, van Dawid Kramer se liedjie oor die bruilof met die goue skulpies en die krom kerse, tot Miley Cyrus wat in ’n slegte bui is. Hy sing Afrikaans en Engels, oud en nuut. Hy sing vrolike liedjies uit volle

bors, maar wanneer ek hom so sing-sing hoor aankom, weet ek hy kwel hom oor dinge. Oor die dinge wat buite sy beheer is. Dinge wat sy binneste in ’n knoop vasdraai wat nie wil skietgee nie. En so ’n gesingery kan misleidend wees, want op

die oog af lyk dit of hy oukei is. Dit klink asof hy vrolik is. Dit lyk asof hy sing-sing deur die droogte gaan kom en kop bo water hou, maar ek weet van beter. Sy lawwe liedjies flous my nie.

Ons almal doen maar wat ons moet doen om die donker te verdryf totdat die son weer skyn, want die son sál weer skyn. Of jy nou duime vryf, voete stamp, fluit, huil of sing, doen maar net jou ding totdat die frustrasie jou verlaat. Dis in elk geval beter as die alternatief. - Gasskrywer

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!