Ek sê maar net
Hester Steenkamp - [email protected]
Keuses
Ek sit graag buite op die agterstoep waar ek ’n uitsig oor die veld het. Die mossies sit saam met my onder die dak waar hulle tydelike verligting soek van die skroeiende son en die versengende hitte, maar dit help nie. Hulle bekke hang wyd oop. Wanneer hulle my plante verrinneweer vir iets te ete, kyk ek anderpad. Hulle is honger, nes elke ander dier hier.
Dis nie beendroog nie. Dis dooddroog. Morsdood-dooddroog.
Soos ek oor die veld kyk, visualiseer ek hoe die weer in die noordweste bou en die reënbui naderkom. Ek doen dit daagliks. In my geestesoog sien ek dan die blitse, voel ek die koel wind wat uit die wolke waai en hoor ek die eerste druppels op die sinkdak. Ons het al in die verlede die weer so sien aankom, maar dit was lank gelede.
Gister stuur ’n ou skoolvriendin vir my ’n bemoedigende boodskap uit 1 Konings 18. Dis die stuk waar die wolkie so groot soos ’n man se hand in ’n reënstorm verander het. Elia het vir Agab gesê hy hoor die gedruis van groot reën, hoewel hulle ook in ’n groot droogte en hongersnood was. God sit soms dinge in ’n mens se gees wat teenstrydig is met dit wat jy sien en hoor. Daarom hoor en sien ek die reën so dikwels in my geestesoog, al is hier net ellende en dood om my. As mens net vir ’n teken sit en wag, sal jy ontmoedig raak.
Mens raak nooit gewoond aan droogte nie. Nooit nie. Ook nie aan die gevolge van droogte nie. Elke geraamte, elke dooie skaap en bok, elke leë skilpaddop en elke springbok wat aan ’n draad hang, maak so seer soos die eerste een. Dit ruk jou hart uit jou bors. Later hou jy op om die dooie diere te tel en die syfers in jou skaapgetalboekie raak al minder en minder totdat jy ophou neerskryf. Dit kan nie minder as nul nie. Die desperaatheid raak net meer, die planne minder en die geld heeltemal op.
Droogte vat meer as wat mens jou kan voorstel. Dit vat tot jou keuses weg. Aan die begin het jy nog die voorreg om te besluit hoe jy dit gaan hanteer, want dit gaan mos nie vir altyd aanhou nie? Jy kan kies watter diere verkoop en watter gevoer moet word, watter kampe jy gaan uithou tot laaste, na watter veiling jy jou diere gaan vat en waar jy huurgrond wil soek. Maar dan hou dit wel vir altyd aan, en verdwyn die keuses een vir een. Dan kom die dag waar daar geen keuses meer oor is nie. Jou planne is ook op. Dis dan wat die droogte vir jou besluite begin neem. Jy het geen sê meer nie.
Die droogte besluit lankal oor ons lewe. Ons het geen verweer meer nie. Ons het reeds elke ander roete oorweeg, bepraat, bebid en bedink, maar daar is ’n groot, vet, bloedrooi stopteken voor ons in die pad.
Daarom het ons besluit dat ons nou op die punt gekom het dat ek tydelik die plaas gaan verlaat en gaan werk, sodat ons darem net ons medies kan behou. En soos so dikwels, is daar mos altyd baie om voor dankbaar te wees. My sus het vir ons ’n boei uitgegooi en ek het hom gevang en ek gaan help waar ek kan, totdat ons hierdie droogte bloedneus slaan en ek kan terugkom na my boerman, my diere, my tuin en my huis.
Die besluit was allesbehalwe maklik. My hart pyn en my asem is vlak. Dis nie hoe ons ons lewe voorgestel of beplan het nie, maar keuses is daar nie meer nie. Dit is wat dit is, en ons gaan saam hierdeur kom, al is ons nie fisies bymekaar nie. Ek en my boer veg al 30 jaar saam, ons sal hierdie oorlog ook wen. Ons sál!
1 Konings 18: 41: Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!” - Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie