Ek sê maar net: Werk van die huis
Leandrea Mouers - [email protected]
Dit is nou al ongeveer ses of sewe jaar wat my werkstasie of kantoor by die huis is. Dit kan dalk selfs langer
wees. (Deesdae filter my brein net belangrike inligting uit.) Voor die Covid-19-pandemie wat almal noodgedwonge huis toe gestuur het, het ek reeds van die huis af gewerk. Toe kollega's kla oor hoe hulle met desktop en al huis toe gestuur is, het ek net geglimlag, want my werkstasie, in die middel van my sitkamer, was al behoorlik ingebreek. Wanneer mense hoor dat my kantoor by die huis is, is die eerste reaksie dikwels "sjoe, dit moet seker lekker wees. Ek wens ek kon van die huis af werk!". Maar, soos met enigiets, is daar voor- en nadele. Toe dit net ek en ousus was, was dit nog okei. Ek kon vir ousus by ouma en oupa gaan los en rustig my werksdag voortsit. Nou, met kleinsus nog by die huis, raak dit maar moeilik, want ouma werk, en ander ouma het soms ook ander pligte. Kleinsus is nou twee jaar oud, en my mammahart voel dis nog te vroeg vir skool, al dreig ek elke dag dat sy skool toe moet gaan.
So omtrent 'n maand gelede het ek net gou 'n oproep geneem. Ek het met my kollega oor iets werkverwant gesels, toe ek vir 'n oomblik besef dit is te stil. Te stil vir 'n tweejarige. Te stil vir 'n kind wat, tien teen een, met kattekwaad besig is.
Ek sit die foon neer en stap deur die huis. En daar kry ek vir kleinsus in die kombuis, van kop tot toon
onder die meel, besig om in die kas weg te kruip. Die arme hondekinders, wat eintlik bruin moet wees, was spierwit! Ek het haar net so in die kar gelaai en ouma toe gevat. Ouma het lekker gelag en kleinsus is toe in die bad. Ek kon verder werk,
maar het 'n paar minute verloor op Clockify! 'n Paar weke later gebeur dit weer: daardie onheilspellende stilte.
Hierdie keer nie in die kombuis nie, maar in die kamer, waar kleinsus besluit het om die vloer met
Vaseline te smeer. Ek het maar die ergste probeer afvee en die kamerdeur toe gemaak. Uit die oog,
uit die hart, of hoe?
Selfs in ons oggendvergaderings wanneer ek "goeiemôre" sê, antwoord kleinsus ook "goeiemôre!", sy ken nou al die roetine. Daar is soveel kere wat kleinsus op my skoot aan die slaap raak terwyl ek werk, skryf of redigeer.
Maar sodra ek haar neersit, word die dak afgeskreeu. Gelukkig is ek nie een van daardie mense wat in pajamas sit en werk nie, want met joernalistiek moet jy gereed wees om vinnig in die kar te spring vir 'n storie. Soms is kleinsus en ousus saam, soos gisteroggend toe ons Erongo Talk by Independence Beach opgeneem het, en kleinsus saamgegaan het.
Daar is regtig dae wat ek die kantoor mis. Dan ry ek Swakopmund toe, net om 'n bietjie in 'grootmensgeselskap' te wees en my kollegas in die oë te kyk. Daar is ook dae wat ek wonder hoe ek alles gaan hanteer – skryf, vergaderings bywoon, en elke vyf minute hoor "Mamma, ek is honger!". Of as die wind in Walvisbaai waai en die internet ook saamwaai, dan raak dit 'n geveg by die huis. Maar, dan besef ek weer hoe geseënd ek is dat die Liewe Heer my hier geplaas het op hierdie
oomblik, en ek is hier vir dit alles!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie