Ek sê maar net
Theresa sê maar net
Sy genade – en Sy tyd – is vir jou genoeg!
Dit is vreemd hoe verjaarsdae en vakansiedae, Paasnaweke of herdenkings ‘n mens opnuut bewus maak van tyd – meer spesifiek die verbysnel van tyd. Dit voel of jy gister verjaar het en nou is jy al klaar weer ‘n jaar ouer. Of, 2023 se Paasnaweek-gebeure is nog vars in jou geheue en nou is hierdie jaar se een so pas verby. ‘n Breek in die werksroetine, dalk selfs ‘n uittog see toe ten spyte van die langpadverkeer. Net die vooruitsig om weer seelug in te asem, of die vroegoggend hanekraai op die plaas te hoor, of die bederf van ‘n lodge of ‘n gastehuis, ‘n wildsrit teen sonsondergang of die keurig voorbereide etes wat aan jou voorgesit word sonder skottelgoed en sonder kopkrap.
Paastyd word ‘n vier– of vyfdag langnaweek van wegbreek en uitbreek om werkstres en roetine af te skud, die horlosie as baas te ontsnap en die drafstap pas te verruil vir ‘n tipe tydloosheid langs die branderlyn, of waar jy ookal gekies het om te wees . . . tot dit dan ook uiteindelik ontaard in ‘n gejaag. ‘n Gejaag om alles in te pas wat jy vir die langnaweek beplan het om betyds in die pad te val terug huistoe sodat jy die ergste verkeer mis. Dan die kar aflaai en uitpak, alles weer op hul plekke kry voor Paasmaandag verby is en Dinsdag aanbreek. Terug na die realiteit, terug na die roetine van die werksweek, skoolweek, jaagweek wat uitloop en wegraak in nog ‘n maand en nog ‘n jaar. . . En dan wonder ons waar gaan die tyd heen? Hoe is dit moontlik dat ‘n jaar so ongemerk kan uitloop?
Ons jaag agter tyd aan, of moet ek eerder sê tyd jaag ons. Maar wat van die tydlose, die ewige wat nie gebonde is aan tyd of plek, lewenseisoene of vergetelheid nie? Paasnaweek is die heiligste, mees gewyde tyd van die jaar – ‘n tyd vir refleksie, dankbaarheid en herbesef van genade en kwytskelding, opstanding en bevryding. Alles – hoe groot en oorweldigend dit ookal mag voorkom – alles verdwerg teen die grootsheid van die Kruis en van die Leё graf.
En God se tyd is soveel anders as ons s’n. Vir Hom is ‘n duisend jaar soos ‘n dag en ‘n dag soos ‘n duisend jaar. Hy meet nie in sekondes, minute, dae, maande of jare nie. Hy meet met die maatstok van liefde en gehoorsaamheid, toewyding en oorgawe. Maar bowenal liefde – liefde soos Jesus s’n – sonder verwagtinge van iets terug ontvang, sonder verwyt of selfbelang. ‘n Liefde wat jou oplig na dáár waar jy die mooiste in jouself kan ontdek en die mooiste in ‘n ander kan raaksien en waardeer. Suiwer, lig en oneindig meer werd as enigiets anders wat gemeet kan word in aardse terme.
Paasnaweek is weereens verby. Tot volgende jaar, as Hy dit so wil. Was jou naweek ‘n gejaag na wind, of ‘n stilword by die voet van die kruis? Het jy vasgesit in naweekverkeer of in gedagtes jou siel laat saamstap op die lydensweg van Jesus Christus? Het die asem in jou keel kom vassit en jou menswees klein geword op Vrydagnamiddag toe so lank gelede Hy sy laaste asem laat stol het in die rou uitroep van “Dit is volbring”. Was jou huis se ligte min, jou gedagtes besig om innerlike paaie te loop totdat – met Sondagoggend – al die ligte in jou huis die donkerte verdryf het, soos Hy die dood vir ewig oorwin en opgestaan het om vir ons die ewige lig en lewe en oorwinning te bring?
Vier die lewe! Vier elke dag, want jy en ek is oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.
Moenie vassteek by die kruis nie – ook nie by jóú éie kruis nie – die kruis het ‘n brug gebou na die ewige lewe, onaangeraak deur die dood. Onthou, Sy genade is vir jou genoeg. Sy genade is altyd, in alles en deur alles genoeg. Dit is genoeg vir jou, dit is daar vir jou. Vat dit, leef dit en loof Hom daarvoor. En so ook tyd – daar is genoeg tyd vir alles wat jy vir Hom moet doen, volgens Sy plan vir jou lewe. Skakel onnodige, nietige aansprake op jou tyd uit. Tyd hoort nie op die troon van jou lewe nie, dis God se plek. - [email protected] - Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie