René Hugo
René Hugo

Ek sê maar net - Meer werd as goud, silwer en robyne...

Mandy Rittmann
Meer werd as goud, silwer en robyne...

René Hugo ([email protected])



Die skrywer en volkekundige PJ Schoeman vertel die volgende verhaaltjie wat hy by 'n Heikum-oudste gekry het:

"Waar 'n kind nie moedersmelk gedrink het nie, is hy niemand se kind nie. Almal praat hard met hom. En op niemand se skoot is daar 'n plekkie vir so een om te huil wanneer 'n doring in sy voetjie gesteek het nie. Vir almal se vuur moet hy hout aandra. Almal se ashope moet hy skoon maak."

Ek vertel hierdie storie aan 'n vriendin. Haar reaksie was: "Dis verskriklik - maar sulke dinge gebeur gelukkig nie meer vandag nie..."

Dit is verskriklik, ja. Maar ongelukkig gebeur sulke dinge wel vandag nog.

Ons het almal mooi fotos op tydskrif-buiteblaaie en nuusprogramme gesien van drie sussies (Ousus en 'n jonger tweeling ). Die fotos is geneem op 'n lughawe waar hulle opgewonde uitsien na 'n nuwe lewe saam met hulle ouers, in Australië. 'n Paar maande later het ons die nuus gekry dat al drie dood is. Ek wil vra: wat nou van die moedersmelk..?

Of ek dink aan 'n onlangse koerantberig. Van 'n ma wat haar vroeg-gebore baba en haar agt maande oue dogtertjie in swart sakke in asdromme gelos het.. Sou moedersmelk hier nie gehelp het nie?

Hierdie is moontlik ekstreme voorbeelde van wat kinders kan oorkom in ons (veilige) gemeenskap en in hulle (liefdevolle) ouerhuise.

Die stelling word dikwels gemaak: "Ag, hierdie is individuele gevalle." Maar daar is ongelukkig ook 'n groep kinders wat juis demonstreer dat dit nie maar net individuele gevalle is nie. Dit is kinders wat vandag dikwels geignoreer word, misken word, en sosiaal verwerp word: kinders in kinderhuise.

Ons kinderhuise is tans vol - dikwels oorvol. En wat erger is - die kinderhuise het 'n kroniese tekort aan geldelike en ander vorms van steun . Die natuurlike gevolg hiervan is dat die kinders van hulle persoonlike ruimte , klere en ander persoonlike besittings ontneem word. Want daar is nie plek nie. Ook nie:... die plekkie op 'n skoot waar hy kan huil nie...

Daarbenewens word die personeel oor die algemeen swak besoldig, met die logiese gevolg dat onopgeleide personeel die reël en nie die uitsondering is nie. Navorsing wat in die RSA gedoen is het juis gevind dat personeel in sulke inrigtings onvoldoende kennis van en insig in die behoeftes, kenmerke en ervarings het van die kinders wat hulle moet versorg.

Kinders in kinderhuise word ook in skoolsituasies dikwels as 'n minderwaardige groep beskou en behandel. En in die algemene sosiale (volwasse) omgewing is verwerping/ miskenning meer die reël as die uitsondering . Ek onthou so goed die storie van 'n boeretannie wat baie trots daarop was dat hulle gereeld kinders van die plaaslike kinderhuis vir vakansies na hulle plaas toe neem. Maar dan maak hulle seker dat growwe kombersies en harde handoeke vir hulle uitgesit word, want: " hulle is nie beter gewoond nie."

Daar is ook'n ander element om in ag te neem. Kinders in kinderhuise word meestal, as gevolg van die gebrek aan ruimte, op 'n vroë ouderdom in die "volwasse wêreld" ingstuur. Soms met katastrofiese gevolge. In die verband verklaar navorsers Osbon en Bromfeld ; "Youg people who leave institutional care are the most vulnerable and disadvantaged social group".

En dan is daar vandag 'n ander angswekkende probleem. In 'n ondersoek is gevind het dat daar in die RSA 500,000 huise is met kinders aan die hoof van die huis. (Dit beteken dat kleinder kinders versorg word deur iemand wat self nog versorging behoort te kry!). 'n Mens wonder wat die situasie in Namibië is?

Nou hoor ek Jesus oor kindertjies sê:"God se koningkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is." (Matt . 19:14). - Gasskrywer

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer