Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

Ek sê maar net

Mandy Rittmann
Hester Steenkamp - [email protected]

Huis Paleis

Ek het in ’n paleis grootgeword. ’n Paleis met hoë wit mure en ’n groot pruimboom waarin ek dikwels geklim het. Breë trappe het na die wye voordeur gelei met ’n reuse-gouereën wat die trapreling toegerank het. Van die middelste vlak af, waar die leefarea was, kon ek agt trappe afklim na die diepste swembad in Windhoek, en ook my oupa en ouma se woonstel met ’n groot frangipani voor hulle kamervenster. Dan was daar agt trappe na die boonste vlak waar die langste gang in die wêreld was.

Ons ouers se kamer was op die verste punt. Die trappe was baie breed. Ons en ons maats het skool-skool daarop gespeel. Daar was ’n balkon wat amper reg rondom die boonste verdieping geloop het. My suster se vriende het soms van die balkon af tot in die swembad gespring, maar net as die grootmense nie naby was nie, want dit was verskriklik hoog en gevaarlik.

Buite was ’n reusetuin met ’n groot wilgeboom in die middel van die grasperk wat my pa self daar geplant het. Die lang, slap takke het tot op die grond gehang en ek het dit dikwels soos verhooggordyne voor my oopgedruk, en wanneer hulle sag agter my toeval, het ek in ’n wonderwêreld verdwaal. Regs van die swembad het ’n massiewe bottlebrush gestaan met die rooiste blomme denkbaar. Die boom het amper aan die hemel geraak. Langsaan was die kuierarea met groot, dik pilare waaraan jasmyn gerank het wat jou bedwelm het met hulle geur. In die hoek was ’n perskeboom wat die grootste, sappigste vrugte gedra het. Ek onthou hoe my pa hulle pluk en die haartjies teen sy boek afvryf en vir my aangee en ek onthou hoe sonwarm en stroopsoet dit was.

Ek was ’n prinses in ’n paleis.

’n Paar jaar gelede het ek en my suster besluit om terug te gaan na die paleis toe. Vir ons was dit steeds óns huis, al was dit vir baie jare nie meer die geval nie. Ons het voor die hek gestop en net daar het ek reeds die eerste ongemaklike gevoel gekry. Waar was die hemelhoë mure waarop ek soos ’n gimnas geloop het met gepunte tone? Hierdie was dan net gewone mure soos elke ander huis in die straat s’n! Daar was ’n huisie buite die hek, maar geen sekuriteitswag in sig nie. Ons het die klokkie gedruk. Die huismense het na ons storie geluister en hulle was so gaaf om ons in te laat. Ons wou net deurstap en onthou. Hulle het dit verstaan.

Dit was ’n verskriklike fout. Die pruimboom was weg. Die wilger ook. Die swembad was leeg. Niks was soos ons dit onthou het nie. Niks. Die vertrekke, trappe, kamers en balkon was steeds daar, maar dit was nie ’n paleis nie. Dit was net ’n huis. Dit was ’n lieflike ruim, maar doodgewone huis. Dit was nie ’n paleis nie.

Ek het die rooi vlek op die wit mat in my ou kamer herken waar ek die Sparberry laat omval het, maar dit was al wat bekend was.

Ek en my suster het na mekaar gekyk. Ons wou nie voor die mense ten gronde gaan nie, maar in ons binnekante hét ons. Wáár was die breë trappe? Waar was die reusepilare? Dit kan tog nie die gewone pilare wees wat nou daar staan nie? Waar is die groot tuin en grasperke? En hoekom is die balkon nou so naby aan die swembad?

Ons het vinnig klaargemaak, die mense bedank en kar toe gestap. Ons het lank daar bly sit. In stilte. Nie een van ons het geweet wat om te sê nie, want wat sê mens as niks is soos jy gedink het dit is nie?

Ons het weggery, baie armer as toe ons daar gestop het.

Tóg, wanneer ek vandag terugdink, onthou ek steeds die paleis. Ek sal altyd so daaraan dink, want dis hoe ek dit wil onthou, al weet ek die realiteit is heeltemal anders.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!