Charlotte (1)
Charlotte (1)

Ek sê maar net

Mandy Rittmann
Charlotte Beukes-Muundjua - [email protected]



Innie huis van Bachus

Skink vir die harlekyn nog wyn, het Sonja Heroldt met haar soet stem gesing.

En wragtig, wyn maak hanswors plesierig, gou-gou... ‘vieriekie'warm soos ons toentertyd sou sê.

Hulle sê dat jy verskillend dronk raak afhangend van die plek en maters - morsig, handgemeen en dan die salige besopenheid van die opstêrs mense: pienk-met-kant!

En ek glo dit, want ek’t mos al '? paar draaie op des aarde gemaak.

Selfs met Duitsers gewerk met hul stiptelike 'glühwein' soos winter sy kop uitsteek. Dan die 'schnapps'... dié akkordeer glad nie met my Khoisan-bloed nie. Ek het tydens 'n kantoorpartytjie die toiletpot omhels van 'n kan minivrugte-smaak goed drink (do it for the team, they said!) en toe sien ek my alie sonder ‘n spieël.

Verstaan nou ook hoekom sekere mense hakskoentjies vermy wanneer ‘n partytjie beplan word. Jy waggel en 'side-step', en kort voor lank skaats jy! Die groot mense was reg: dronkgeit kom met skades en skandes.

Ek gaan terug na my minse wat Old Brown Sherry drink buite winterseisoen of ‘n visvang'trip'.

Dis goedkoop en glo smaaklik.

Nou sit die manne onder ‘n boom en gorrel daai OB, sommer uit die bottel of een Shoprite-glas word gedeel.

Die kêrels raak woes warm, die stemme gaan van bariton na sopraan, want die batterye is gelaai! En so word die besigheidsplanne van vyf jaar terug weer bespreek met uiterste oortuiging, ‘n hele SWOT-analisering, alhoewel hulle net graad 10 gehaal het en onmiddellik by die dorp se grootste boukontrakteur se span aangesluit het. Die een man se plan beter dan die ander. En almal praat gelykop. Die Val van Babel – Seisoen 1 000.

Hulle raak slim, sommer baie slim vir ‘n redenasie. In oupa Hans se woordeskat was dit woord-op-tou-sit.

En die ou kêrel was moerig as jy redeneer sonder dat jou storie agtermekaar is. Losdrade het sy moer gekoer! Jy kry dialoog en dan kry jy dronk dialoog. Rigtingloos.

Ja nee, onse volk raak tweetalig. Dis nou ouma Bertha se stelling as die boubedryf-ooms na 'sub' swaaiboude by die huis aankom. En eintlik was sy reg, want het julle al gehoor hoe spat die Engels na so ‘n dronknes? Kyk, die sweet tap hulle af van ka’ Rooinek speel. Hansie Slim en sy trawante.

Die bruin meisies raak summier Whitney Houston soos die wyn inskop. 'Blowdry'borsel word ‘n 'mic'. Die woorde is verkeerd, maar mêrrim sing rivierkatte aan’t kerm.

En die 'classic' by so ‘n 'girl party' is daai skielike gil arms in die lug. It’s my song!!!!

En dan kom die dronkverdriet. Mensig, maar daai is ‘n lekker huil. Asof die liggaam skielik ‘n tranefontein opgebou het. Dis snot en trane en die trooster ewe gesuip. Bied ‘n sakdoek aan en omhels sy mater. Dit babbel deurmekaar tot die trooster se traanfontein ook losbars.

Kom by die huis en soek onmiddellik kos. Stomme Frigadaire-yskas met daai sterk silwer handvatsel word oopgeruk, hy verloor amper balans. Word dan toegeklap en reguit oond toe, al skellend. “Die huis het nooit ordentlike kos nie en mens werk kliphard in die bloedige son!” Dis die liedjie wat oor en oor speel elke sub naweek.

O ja, en dan kan ons in des lewens nie die fabelagtige groenrokvrou, Monis Granada vergeet nie. Sy keer hulle heel gat omhoog. Seker oor die Spaanse dans label?

Nou gaan ons Laanies toe wat ook dieselle OB gekap het, natuurlik uit die gepaste sherrie glasies op die balkon of hul braaiarea, terwyl stemmige musiek speel. Hulle drink maklik dieselfde hoeveelheid, maar bly netjies op die been, gesels en lag heerlik en speel 30 seconds of skaak. Niemand weet hulle was aangeklam nie. Laat daar wyn wees en daar was tydelike vreugde.

Op hierdie besope noot deel ek my gedig:

Skink en klink

jou kelkie wyn,

skep en sluk

jou skaal tombo,

breek jou kelkie

ert jou beker

slurp en sluk,

verdrink in dieselle poel

van dronkverdriet

uit die bottel van domgeit

Versuip verstik verval.

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer