Feestyd se alleenwees
Ek sê maar net 20 jaar gelede
Gene Travers – Dit raak nou weer daardie tyd van die jaar wat ’n man jou Kersgeskenklysie moet maak. Smaak my hoe ouer ’n man raak, hoe korter word die lys, maar ek het darem so ’n paar mense wat vanjaar by my ’n geskenkie gaan kry.
Mensverskrikkers soos Attila the Hun, Ruthless Ruth, Hägar The Horrible, Godzilla, King Kong en die huidige regering het ek sommer hier bo van my geskenklysie geskraap.
Rupert Prenn sê vir my dat hy hierdie Kersfees net so eensaam soos ek gaan wees en dat ons op dié dag bymekaar moet kom. Hy gaan vir my ’n geskenkie koop en ek belowe toe dat ek vir hom ook een gaan koop. Ons gaan die geskenkies mooi toedraai met geskenkpapier en strikkies en dit met groot liefde aan mekaar oorhandig.
Verder af op my geskenkielys sien ek Hans Eerenstein, Jasper Basson en Heyla van Zyl se name – hulle gaan elkeen by my ’n Kersgeskenkie kry. Nie net omdat hulle vir my omgee nie, maar ook omdat ek weet wat hulle vir hul medemens doen.
Twee nuwe name op my lysie is Nollie Horn en Driekie Rossouw, wat in Senior Park in Windhoek woon. Nollie trek nou al hier by die tagtig en Driekie is nie ver agter haar nie, maar hulle het my ’n les geleer op die vingerbordtafel. Ek het tot laat saam met Nollie en Driekie gekuier en dit was nou een van die lekkerste aande wat ek in ’n lang tyd saam met mense deurgebring het. Maar toe ek daar van hulle wegry, het ek heimwee in my hart gevoel. Ek het gedink aan al die bejaarde mense wat in die pylvak van hul lewens is en wat hierdie Kersfees alleen moet deurbring.
Jare gelede, tydens die oorlogtyd, het ek ’n misstap begaan en my straf was om sewe rand aan die tehuis vir bejaardes op Heidelberg te skenk. Ek moes ook vir twee weke besoek by die ou mense aflê en met hulle gesels.
Dit was ook so in die omgewing van Kersfees en die meeste van die bejaardes met wie ek daar gepraat het, is seker by hierdie tyd al dood, maar ek het ná al die jare nog ’n sagte plekkie in my hart vir almal van hulle.
Een waardige ou dame het my vertel dat sy en haar man hulle afgesloof het om hul kinders deur die universiteit te kry. Die kinders het haar sewe jaar tevore by die tehuis vir bejaardes afgelaai en sy het hulle nooit weer gesien nie. Sy het vir my gesê sy sit nou maar net daar en wag op die dood, maar sy verlang nog verskriklik na die kinders. As hulle haar tog net wil bel, het sy gesê.
Dié Kersfees gaan ek saam met Rupert aan die tafel sit vir die Kersmaal en ons gaan geskenkies uitruil, maar ek gaan ook ’n gebed opstuur vir al die bejaardes wat dié dag alleen moet deurbring. Ek wens ek kon by julle almal wees. – 7 Desember 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie