No Image Caption

Genoeg sports vir spele

Sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers
Ek dink die Regering behoort sommer vandag nog die President se jet te leen en ’n afvaardiging op ’n uitgebreide reis stuur om die wêreld te oortuig dat die volgende Olimpiese Spele in Namibië gehou moet word.

Ek sien op die TV hoeveel miljoene mense die geleentheid bywoon en so ’n saamtrek van mense kan net bevorderlik vir ons toeristebedryf wees.

Ons kan op dié manier ook dalk ’n groot aantal beleggers trek. ’n Ryk mielieboer van Amerika kan byvoorbeeld ons eie mieliebedryf in die Namibwoestyn besigtig en besluit om geld in te pomp. Veral as hy sien ons besproei die mielies met seewater wat met emmers deur werkloses aangedra word. Ons kan ook aan hom verduidelik dat jy nie later sout op jou mielies hoef te gooi nie, want dit kom klaargesout op.

’n Arabiese oliebaron kan dalk net besluit om geld in ons olieraffinadery op Usakos te belê en die direkteur van ’n groot eksplorasie-organisasie kan moontlik besluit om na die goud te begin soek waarvan ons voormalige Minister van Finansies gepraat het.

Ek glo ook nie dit sal ons veel kos om die Spele hier in Windhoek aan te bied nie. Ons sal seker aanvanklik die hand diep in die sak moet steek vir die jet se brandstof en die afvaardiging se duur dubbelborspakke. Hul verblyf sal ook seker ’n aansienlike bedrag kos, want Namibiese afvaardigings bly net in die beste hotelle en dan piekel hulle gewoonlik ’n TV-span van die NBC ook saam.

Hier te lande behoort dit ons egter nie te veel te kos nie. Ons kan miskien net die Falcon Crest-lughawe so ’n bietjie vergroot, want ek verwag sommer baie spoggerige stralers wat hier sal kom land.

Verder dink ek dat ons, ons jukskeibane ook moet opknap.

Ons hoef ook nie kaartjies by die verskillende sportstadions te verkoop nie. Ons kan sommer die toegangsgeld by die hekke staan en bedel.

Oor verblyf vir die mensemassa wat ek hier verwag, hoef ons ons ook nie veel te bekommer nie. Ons kan baie vinnig ’n plakkersdorp sommer oornag opslaan.

Met toiletgeriewe vir baie mense voorsien ek ook nie ’n probleem nie. Hulle kan hul ding sommer in die rivierlope of openlik langs die straat staan en doen. Dit is al ’n ou gebruik hier in Windhoek.

Die besoekers sal ook nie sukkel om te weet waar die agterkant van ’n boom is nie. Hulle kan maar net kyk aan watter kant van die boom die hopies lê, want niemand doen so iets vóór ’n boom nie.

Ons kan ook ’n aantal nuwe nommers aanbied wat bykomende atlete sal trek. Ek verwag dat ons eie spanne in nommers soos klipgooi, huisbraak en betoog, asook drink en baklei langs sokkervelde goue medaljes sal verwerf.

In die staatskarstamp-nommer hoort ons ook minstens ’n silwermedalje in te palm.

Om dit vir die atlete makliker te maak, hoef ons ook nie toetse vir verdowingsmiddels uit te voer nie. Of ’n atleet op steroïede, dagga, lemoensap, aspros of brandewyn wil wen, is sy eie saak.

Vir afleiding kan die besoekers ons Staatspresident se motorkade daagliks besigtig en ons kan skoolkinders kry om gereeld die Oshakati-hop-hop-jive op te voer. Miskien kan die Roxy se “stripper” weer vir ’n verrassing op die onthaalfront sorg.

Ek glo dat die Spele in Namibië net ’n sukses kan wees. Ons kan die besoekers van regoor die wêreld ook beïndruk met die vordering wat ons sedert onafhanklikheid gemaak het.

Sou hulle sien hoe staatsamptenare bedags, saans en oor naweke op en af met staatsvoertuie ry, kan dit by hulle die indruk skep dat die manne hul werk baie ernstig opneem. Hulle sal dink dat die amptenare regdeur werk om al die probleme op te los.

Ons sal egter baie dringend iets aan Windhoek se water moet doen.

Ons kan darem nie verwag dat die besoekers ná die Spele na alle uithoeke van die wêreld moet terugkeer en vertel van die stink water wat hulle moes drink en waarin hulle moes bad nie. – 5 Augustus 1992

Kommentaar

Sakkie Prinsloo 2 Jaar Gelede 05 August 2022

Bakgat voorstel Gene.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!