Gesundheit: Hoesê?
René Hugo – Daar is ’n interessante fabel oor Dionusos, die god van wyn, en sy verhouding met die mens se vyf sintuie.
Hierdie verhouding was glo só goed dat die sintuie besluit het hulle wil Dionusos bedank vir al die vreugdes wat wyn bring en beplan toe om ’n wynfees te hou. Die oog, die neus, die tong en die vingerpunte (tas) was heel ingenome hiermee.
Maar die oor het afgeskeep gevoel – hoe kan ’n oor dan nou, met wyn, feesvier?
Toe beveel Dionusos: almal wat voortaan saam ’n wyntjie (of wat) geniet, moet hul vreugde toon deur die geluid van glasies wat klink. En so het die oor deel van wyn-plesier geword. . .
Dié storie laat my toe wonder – waar staan die oor werklik in die ry van sintuie? Is dit minder of meer belangrik om te kan hoor as om te kan sien, proe, ruik of voel?
Die antwoord kan dalk gevind word as ons kyk hoe die gebrek aan gehoor deur die samelewing ervaar word. ’n Blinde persoon verdien geredelik die mens se empatie. Ons steek graag ’n helpende hand uit na iemand met ’n donker bril en wit kierie. Daarenteen word met doofheid, pienk dingetjies agter die oor en misverstande wat spruit uit swak gehoor, vrylik gespot.
Is die oor regtig so waardeloos of selfs lagwekkend?
Kom ons vergelyk die oor met die ander sintuie. ’n Vergelyking met tas, voel en smaak is maklik. Laasgenoemde drie is almal direkte sintuie, terwyl die oor ’n afstandsintuig is. Vir die mens beteken dit dat die oor inligting van buite homself kan kry en so ’n baie groter bron van inligting as die direkte sintuie is.
Maar: hoe vergelyk die oor met die ander afstandsintuig, die oog?
Visuele inligting kom van bietjie meer as 180° van voor af. Die agterkant van die mens se lyf is dus, wat die oog betref, ’n dooie kol. Daarenteen verskaf die oor inligting van 360° rondom die luisteraar. Die oor is beslis ’n vollediger bron van inligting as die oog.
Die oor het nog ’n ander belangrike kenmerk: die oor is altyd daar. Die oog kan toegemaak word en so stimuli uitskakel. Maar die oor ontvang gedurig klank – of hy wil of nie! Selfs wanneer die mens slaap sal hy hoor. Hierdie feit het al baie lewens gered in gevalle waar ander waarskuwingseine misluk het.
Die verskil tussen die oog en die oor word verder duidelik as ons kyk na die tipe inligting wat die twee afstandsintuie ontvang.
Die oog ontvang ligstrale met kenmerke van lig, donker en kleur. Die mens kan dit omskep in genotvolle beelde, soos skilderye, foto’s, rolprente, en natuurtonele. Meer nog: die mens kan taal in visuele vorm ontvang wanneer hy lees. Hierdeur lewer die oog beslis een van sy grootste bydraes: die verwerwing van kennis.
Die oor weer, ontvang klanke vanaf laag (20 Hz) tot so hoog as 20 000 Hz. Hierdie klanke gee óók plesier in die vorm van spraak en musiek. Op die plesiervlak lyk dit dus of die oog en oor op gelyke voet is.
Waar die oor egter van groter waarde as die oog word, is op die kommunikasievlak. Die mens kommunikeer grootliks deur klank.
Paulus stel dit so mooi: “. . . as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees.” (1Kor 14:11)
Maar meer nog: die oor is dié sintuig waardeur die mens taal verwerf. Babas hoor klank, leer dit ken as betekenisvolle geluide, en ontwikkel so taal.
Hierdie klanke word deur die brein gebruik om mee te dink. Die oor se inligting, in die vorm van taal, is die brein se belangrikste denk-instrument. En só is die oor die basis van die oog se kennisbron: sonder die oor sou die oog nie kon lees nie!
Die oor is beslis meer as pienk blompotte. ’n Horende mens is iemand wat kan praat, skryf, lees en dink: ’n ryke, Goddelik-geskape, volledig-denkende mens.
Vir my is dit duidelik – die oor is die bobaas-sintuig.
Dionusos – kom ons klink daarop! – Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie