G’n vrede vir dié manne
Sê maar net 30 jaar gelede
Dit is ’n baie goeie ding dat elke mens sy eie nering het en almal nie dieselfde werk wil doen nie. Ek meen nou, as almal van ons ministers of die hoof van die NBC wou wees, sou dit maar geknetter het.
Ek weet jy het nie eintlik opleiding nodig vir dié soort werk nie en die astronomiese hoë salarisse, duur motors en weelderige behuising is ’n groot trekpleister, maar dit sou net nie gewerk het nie.
Ons kan ook nie verwag om almal staatsamptenare te word nie, want dit sal onmoontlik wees om vir elkeen ’n GRN-motor te gee om mee piekniek te hou en inkopies te doen.
’n Polisieman of verkeersinspekteur in Namibië wil ek beslis ook nie wees nie. Dit is eerbare beroepe, maar dit lyk my dié mense weet deesdae nie meer waar hulle aan of af is nie.
Die misdadigers roof, moor, plunder en verkrag en daarna wys almal ’n vinger na die vredesbeamptes wyl hul base in die regering vanaf rostrums aankondig dat die polisie teen die boewe gaan optree. Maar doen die polisieman sy werk, is hy dieper in die sop as die boef. Miskien moet die regering alle polisie- en verkeersmanne se vuurwapens en sambokke afneem en hulle elkeen met ’n roomyskarretjie vol roomys uitreik.
Hulle kan dan die gepeupel wat paaie verspêr, eiendom beskadig, moor en steel, met die roomys omkoop om asseblief tog nie so stout te wees nie.
Sommige mense verwag seker dat die misdadigers dan al lekkend aan hul roomyse vreedsaam uitmekaar sal gaan.
Verkeersmanne kan met loeiende sirenes op hul roomyskarretjies in Onafhanklikheidslaan afjaag en roomyse aan alle dubbelparkeerders, roekelose en nalatige bestuurders uitdeel. Laasgenoemdes sal die mooi gebaar moontlik so waardeer dat hulle nie weer verkeersoortredings sal pleeg nie.
Regters en landdroste kan polisie- en verkeersmanne wat dit durf waag om misdadigers voor die hof te bring, tot tronkstraf vonnis om die NBC gelukkig te maak.
By sokkerwedstryde kan die polisie wyn en messe uitdeel om die vrede te bewaar. Moontlik kan die polisie ’n kraampie by die môre-mark begin waar hulle gesteelde goedere vir inbrekers en diewe kan verkoop. Bejaardes en toeriste wat kla dat hulle beroof is, behoort summier in hegtenis geneem en vir rusverstoring aangekla te word.
Sakemanne kan al hul waardevolle handelsware saans voor toemaaktyd op die sypaadjies uitpak, om sodoende inbrekers ’n hoop moeite te bespaar en die polisie uit die moeilikheid te hou.
Dié maatreëls sal die klakouse dalk tevrede stel.
Nee wat. . . onder sulke omstandighede wil ek nie ’n vredesbeampte wees nie! Aan die ander kant weet ek ook nie meer so mooi of dit nog veilig agter my tekenbord is nie. – 18 Maart 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie