Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Groot dinge wat kom

Wiesie Kotzé – Vanoggend in die huis tydens my skryftyd woel dit sommer. Almal wil iets hê, gewoonlik is ek die enigste een wat wakker is.

Tydens my Bybelstudiesessie dié oggend lees ek dat net die nuwe wyn in nuwe wynsakke gegooi word en nie die ou wyn nie. Daardie gelykenis was nog altyd treffend, maar moeilik vir my om te verstaan.

Ek lees die nuwe lappe word nie gebruik om ou kledingstukke mee te lap nie. Na ’n bietjie navorsing verstaan ek beter dat Jesus besig was om van die Fariseërs en die skrifgeleerdes te praat en eintlik gesê het hul manier was nie meer van toepassing vir dit waarmee hy besig was nie.

’n Jaar gelede oor drie dae van vandag af, om die pediater aan diens op daardie tyd aan te haal, het die “disaster” in ons lewens gebeur. Ek kyk met hartseer terug na daardie tyd in ons lewens, maar sien ook raak wat vandag anders is as gevolg daarvan.

Ek het ’n vaste rooster vir skryf. In die oggende hou ek en my man graag Bybelstudie voor die dag begin. Vanuit my Bybelstudiestoel kyk ek uit in die tuin en kan die boom sien wat ons vir Mari, ons oorlede baba dogtertjie, geplant het.

In daardie tyd het baie musiekstukke ons pad gekruis. Een daarvan was ’n lied deur Danny Gokey – Tell your heart to beat again.

Ek haal die eerste vers vir julle aan: “You’re shattered, like you’ve never been before. The life you knew in a thousand pieces on the floor. And words fall short in times like these when this world drives you to your knees. You think you’re never gonna get back to the you that used to be.”

Om die verlede agter te laat is nie maklik nie. Wanneer ’n mens vorentoe beweeg, wil ’n mens graag vashou aan dit wat was, wat goed was in die verlede. ’n Mens laat nie sommer jou kind agter nie. Maar dit dien ook geen nut om ’n ou kledingstuk met ’n nuwe lap te las nie. Om nuwe wyn in ’n ou wynsak te gooi nie.

Ek haal verder vir Danny Gokey aan – “Tell your heart to beat again. Close your eyes and breathe it in. Let the shadows fall away. Step into the light of grace. Yesterday’s a closing door, you don’t live there anymore. Say goodbye to where you’ve been and tell your heart to beat again.”

Mari is oral om my en oral in ons lewens teenwoordig al is sy fisiek nie meer met ons nie. Maar ons moet ook aanvaar dat ons werklikheid vandag anders lyk as min of meer ’n jaar gelede. En dat ons dinge vandag anders aanpak as ’n jaar gelede. As gevolg van haar teenwoordigheid in ons lewens.

“Let every heartbreak and every scar be a picture that reminds you who has carried you this far. Cause love sees farther than you ever could. In this moment heaven’s working everything for your good.”

Lukas 12 vers 48, die tweede deel van die vers sê in my vertaling – “baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is”.

Ek sê: Dankie Here vir als wat vir my gegee is. En sê maar wat die volgende verwagtinge is – ek luister.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer