Groot hart van die Suide
30 jaar gelede (SMN)
Deon Schlechter – As gasvryheid en vriendelikheid as ’n kuur vir ons daaglikse probleme in die stad gebottel en op die apteekrak verkoop kon word, sou ek my kanne doer in die Suide gaan volskep het met Mariental as my eerste oase. Want ná die naweek se rugbydag onder die kalkheuwels is dit maar moeilik om aan die koolstofmonoksieddampe van Suicide Avenue gewoond te raak.
’n Paar uur lank Saterdag het hierdie koerantman soos ’n koning gevoel. Dit het al daar by die ingangshek begin. Pauli was nog besig om na perskaarte te soek toe die bruingebrande Hardap-man beduie dat ’n pas onnodig is vir die verteenwoordigers van die pers. Kry sommer met die deurryslag twee programme persent met ’n belofte van ’n oop hand wat wag daar waar die braaivleisvure brand.
Groot Hendrik Meyer groet met die regterhand en twee gratis etekaartjies skuif uit die linkerhand na my bo-sak toe.
Jy word “die man van die koerant” teen die tyd dat jy jou pad teen die nederige sinkdak-paviljoen op gevind het. En vanaand as die laaste bal deur die pale gevlieg het, sal jy nog steeds “die man van die koerant” wees.
Die vrouens hang uit in hul spoggerigste vere. Die hoë hakkies van die skoene se spore in die sand laat dit lyk asof ’n trop tarentale oor die terrein gejaag is. Die lang bloekombome lyk of hul takke grond toe buig om ook ’n proesel van die skaaprib en sosatiedisse te kry. Die manne is in kortbroeke en velskoene. Hulle is bekommerd oor die veld. Maar veral oor die Hardapdam. Sal hy of sal hy nie vanjaar voorsien nie? “Ons sal deurkom. Was al voorheen in dieselfde situasie en het nog elke keer anderkant uitgekom.”
’n Seuntjie vleg sy pad deur die toeskouers met ’n gratis Coke.
“Dis van daai ooms doer anderkant, oom.”
Halfpad deur die rugbywedstryde steek ’n vrou haar kop by die aankondigingskantoor in.
“Ek het goedgedink om sommer vir jou die uitslae van die skole-atletiek te bring. Hoop jy kan dit gebruik.”
So gaan dit die hele dag. Nog voor jy kan besluit of jy bly vir die onthaal, bied ’n onbekende aan om vir jou gou ’n das uit sy kattebak te gaan haal.
As jy uiteindelik met ’n vol maag die afdraai na die Hardapdam vat, weet jy opnuut wat bedoel word met die uitdrukking “sout van die aarde”. – 7 Maart 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie