Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Groot sukses vir ’n klein land

Iréne-Mari van der Walt
Maandag skryf ek oor ’n negejarige rensteljaer wat opkyk na die legendariese Formule 1-renjaer Lewis Hamilton wat reeds sewe keer die wêreldtitel verower het (of agt, afhangende van jou mening oor die gebeure by die Abu Dhabi-resies in 2021). Sy droom is om, soos Hamilton, sy inkomste in ’n Formule 1-masjien te verdien.

Die wegholsukses van die atlete Christine Mboma en Beatrice Masilingi het jong kinders se drome om eendag sport as ’n loopbaan na te streef, moontlik gemaak. Voor Mboma en Masilingi se sukses sou ek dalk jong kinders jammer gekry het omdat ek geweet het hulle drome sal eendag hulle harte breek, maar ons twee ystervroue het aan die land gewys dat enigiets moontlik is.

Ook die week gesels ek met ’n Namibiër wat ’n toekenning soortgelyk aan die Kanadese weergawe van ’n Grammy-prys gewen het. Hy woon tans in Kanada en leer jong kinders Namibiese tradisionele musiek. Hy is saam met van Kanada se bestes genomineer, en het uiteindelik die trofee omhoog gehou.

Tydens ons geselsies spot ek en die musikant oor hoe alle Namibiërs mekaar ken. Op daardie tydstip kom sê ’n kollega vir hom dat sy ma en haar ma glo boesemvriende is. I rest my case!

Ek vertel hom toe van my vriend in Suid-Afrika wat gereeld skerts oor die 13 mense wat volgens hom die Namibiese bevolking uitmaak.

Dit volg ’n paar maande na ’n onderhoud met ’n plaaslike platejoggie wat die wêreld vol getoer het en die verhoog met name soos The Chainsmokers gedeel het.

Van die 13 van ons is daar nou al twee suksesvolle musikante, ’n toekomstige Formule 1-renjaer, twee suksesvolle atlete en natuurlik is een van ons nog die president ook.

Dit is wonderlik om te sien hoe baie talent Namibië oplewer vir so ’n klein land – van Michelle McLean tot Behati Prinsloo in die skoonheidsafdeling en Dan Craven, Tristan de Lange, Drikus Coetzee, Helalia Johannes, Bradley Murere, Christine Mboma, Beatrice Masilingi, Gerhard Mans, Xander Skinner en nog wié in die sportafdeling, tot wyle Japie van Zyl wat diep spore in sterrekunde getrap het – ons is ’n land vol presteerders.

Ek weet nie of dit met die psige van klein groepe te doen het nie. Die skrywer Malcolm Gladwell sal maar eers ’n boek oor klein groepe moet skryf voor ek tot my eie gevolgtrekkings kom.

Gladwell skryf wel in sy boek Outliers, juis oor ’n ontleding oor die konsep van sukses en wat daartoe lei – oor jong kinders wat yshokkie speel.

Die meerderheid van die nasionale span se spelers is glo vroeër in die jaar gebore en Gladwell meen dit is omdat die kinders teen die einde van die jaar effens groter as hul ewekniëe gebou is, omdat hulle ’n bietjie ouer is. Gladwell glo hierdie effense voorsprong beteken dat die spelers wat vroeg in die jaar gebore is net ’n klein bietjie beter kan speel as die res en dit daartoe lei dat talentsoekers hulle uitsnuffel.

Wannneer ’n talentsoeker hul “talent” raakgesien het, kry hierdie kinders dan toegang tot beter afrigting en hulpbronne wat die gaping tussen die “Januarie-Februarie-Maart’s” en die “April-Mei-Junie’s” dan volgens Gladwell vergroot.

Ek wonder of die feit dat ons jong talente in klein groepies genoeg selfvertroue kan opbou, bydra tot hul sukses. Miskien moet ons maar vir Gladwell nooi vir ’n vakansie en hoop ons inspireer hom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer