Gun mekaar asseblief tog iets
Talle suurknolle bewandel die aardbol. Mense wat só kwaad vir die lewe is dat hulle niemand anders iets gun nie. Hulle hou nie daarvan om iemand gelukkig te sien nie.
Ek het altyd gedink dié “toestand” verdwyn met ouderdom. Ek het gedink wanneer jy ouer word, sal jy besef die lewe is kortstondig en dat almal ’n plek onder die son verdien. En dat dit regtig ongesond is om só iesegrimmig deur die lewe te gaan.
Ek was onlangs by ’n aftreeoord waar ’n klomp tannies begin het om ’n groentetuin aan te lê. Die tannies het oor die jare heen struike en blomme daar geplant en dit is sonder twyfel baie mooi.
Nou het ’n paar tannies begin om groente, soos onder meer tamaties, soetrissies, wortels, spinasie, beet, seldery en botterskorsies te plant.
Agter die een woonstelblok het hulle ook begin om groente, soos wortels, tamaties en spanspek te plant.
Bejaardes wat in die woonstelblokke woon kan die groente na willekeur gebruik en jy hoef nie in die tuin te werk om die groente te oes nie.
Dis die enigste groente wat talle van die ou mense inkry. Die tuin verskaf nie net vars groente aan inwoners nie, maar dis ook ’n gesellige byeenkomsplek vir mense wat vrywilliglik in die tuin werk.
Mense het begin kla die tuin lyk slordig en daar is nie blomme in die tuin nie.
Ek is nou wel nie ’n boer nie, maar groente wat mooi blomme het, het ek ook nog nie gesien nie. Groente is daar om mense se mae vol te maak en nie vir mooi ruikers nie.
Die botterskorsie is nogal slordig want dit rank net en het weer eens nie blomme nie. Die blomme kom wanneer die plant reg is om vrugte te dra, maar jy kan dit nie afknip en in jou kamer sit nie.
So die klaers wil nou hê die tuin moet verwyder word omdat dit onooglik en slordig is en geen blomme het nie.
Dit maak nie vir die klaers saak dat inwoners verniet uit die tuin kan eet nie, mense om die tuin kuier en dalk nie eensaam in hul huisies sit nie, dat mense by die tuin verbyloop en sien hoe hulle harde werk groei. Al die dinge maak nie saak nie, want sommige mense is net knorrig gebore en sal ook ongelukkig so heengaan.
Wees dankbaar dat een, al is dit net een ou mensie, vanaand ’n paar vars spinasieblare of een tamatie in sy bord het.
Geniet die groen, groen in ’n droë land soos ons land is mooi, al is daar nie ’n reënboog van blomme nie.
Druk jou hand in die grond en ruik die aarde. Plant ’n saad en wag in spanning dat dit ontkiem en sy kop bo die grond uitsteek. Voel die spanning en opwinding soos jy wag vir die eerste botterskorsie of spanspek om sy verskyning te maak. Hou jou asem op soos dit groei tot jy dit kan oes, op jou bord sien en kan proe. Iets wat jy met jou eie hande geplant het. Proe jou werk. Dis baie meer werd as jou gekerm.
Ek ken ook sulke mense en ek moet sê hulle is baie jonger as daardie tannies. Hulle word in die oggende wakker en is kwaad omdat die son skyn en die voëltjies sing. In plaas daarvan om bly te wees dat hulle die son kan sien skyn en die voëltjies kan hoor sing.
Ek het altyd gehoop hulle sal verander en hulle tog eendag dankbaar kan wees en die lewe kan geniet, maar dit lyk of ek verkeerd was.
Hulle gaan eendag in ’n ouetehuis sit en ander ou tannies se lewens versuur en niemand iets gun nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie