Haak-en-steek-verlange
Sê maar net 30 jaar gelede
Wilna Wolmarans – Verlang is ’n anderste ding.
Party mense kan vir jou met so ’n gebroke uitdrukking in die oë vertel hulle verlang na die een of ander ding, plek of mens dat jy eintlik lus voel om in trane uit te bars.
Ander verlang so ver in die toekoms in dat jy skoon opgewonde raak oor hul “droom”.
Ek het gemengde gevoelens oor verlang. Dis soos om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry. As ek dit kan help, bly ek weg van situasies en dinge wat my kan laat verlang. As ek die verlang net eenvoudig nie kan vryspring nie, geniet ek elke oomblik daarvan op so ’n eina-manier.
Verlang is vir my soos om deur ’n haak-en-steek-bos gesleep te word waarvan die krom dorinkies ’n mutasie ondergaan het om in vere te verander. Net as die reguit dorinkie jou gepiets het en jy lus is om emosioneel te raak, kom die veertjie aan die beurt en kielie jou kop deurmekaar. Dis seer én lekker. Te seer om te lag en te lekker om te huil.
Verlede Saterdagaand sleep ’n kinderpartytjie, wat later oorgegaan het in ’n gejubel van die ouers en ander betrokkenes omdat die kinders uiteindelik hul koppe neergelê het, my mos dwarsdeur hierdie bos.
Ek en swaer was die enigstes wat kans gesien het op te bly vir Bob Dylan se musiek op die kassie. En ons was nie spyt nie. Die spyt het eers gekom toe dit verby was en toe trek hy sy plateversameling uit toentertyd uit die rak en ons luister.
Nie een van ons twee is mense van te veel woorde nie, maar manne en vroue uit die dae toe ons nog salig onbewus van mekaar se bestaan “garage-parties” gehou en “close” gedans het, het ons aan die praat gekry.
Ons het Graceland aangedoen, ’n draai saam met Foster en sy maatjie in Ierland gemaak en later saamgestem dat niks ’n jong mens se hare so kon laat rys van lekkerkry as Peter Maffay se “You” en die een of ander tranetrekkergroep se “Shalala I Need You” nie.
Dit het amper by onthou en gesels gebly, maar toe staan en vang die dorinkies my mos en laat my vassteek op ’n plek wat glad niks met die musiek te doen het waarna ons geluister het nie. En asof afgespreek raak ons stil en ek kan maar net wonder waar in die verlang-bos swaer vasgesteek het.
Ek was op ’n stukkie aarde digby Gobabis.
Die reuk van die vuur in die donkie vul my neusgate. Die gompoue met hul spierwit pense en agteroor kuiwe raas onder die doringbome en die moerkoffie trek in die enemmelketel.
Ek maak die bontste bont lappieskomberse vir dié wat weet hoe koud die nagte op die langpad kan raak.
Ek pluk spinasie in my tuin en verkyk my aan die tamatiestoele wat bloedrooi dankie sê vir die soet water van die aarde wat sonder teenstand en omslag met die swaai van ’n slinger uit ’n pyp boog.
Ek betaal Rooi Koos met eiervrugte en groenbone nadat hy nog ’n keer die steeks Hatz gedokter het.
Ek sit skemeraand teen ’n klip en wag vir my “kinders” om verby te kom om uit ’n halwe drom water te drink en in die lek te wei. Ek is op ’n plek waar jy kan swaarkry sonder verdriet. Waar jy alleen kan wees sonder ’n sweempie van eensaamheid.
O, om tog net weer ’n springbok daar te sien pronk. – 3 Maart 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie