Hakskoentjie: ’n Spookstorie
Gerhardus van Grootfontein – Baie lankal terug, toe Grootfontein ’n bioskoop gehad het en die dorpswembad vol water was, het ’n jong dame met lang, swart hare en ’n fyn bou in die Ford-koshuis gewoon. Haar naam was Adeleit.
Die Ford-koshuis op Grootfontein is in 1968 geopen. Dit is bietjie verder as ’n klipgooi van die (groot) fontein af. Vroeër het die Duitse setlaars groot bome daar geplant om die water te absorbeer. Hierdie bome het ’n woud gevorm met sy eie biodiversiteit vol bosse, struike en varings. Hierdie woud grens tot vandag toe nog aan die speelgrond van die Ford-koshuis.
Dit was ’n warm Desemberaand wat Adeleit deur die gat in die heining geklim het na die woud. Sy het vir Pieter in die geheim ontmoet – ’n jong man wat in die Suid-Afrikaanse weermag gedien het.
“Tot wanneer moet ons nog soos skelms in die nag ontmoet?” vra Pieter ongeduldig.
“Jy weet my ouers gaan my belet om jou te sien as hulle uitvind. Almal ken mekaar hier, so niemand kan jou sien nie.”
“Die koshuis is leeg; die kinders is op vakansie,” protesteer Pieter.
Adeleit sug. “Die koshuisvader is permanent hier en ’n paar onderwyseresse bly die vakansie in. Hoekom is jy so moeilik? Jy weet hierdie goed!”
Pieter wil nie baklei nie. Hy druk haar styfvas. Naggeluide troos hulle.
Messe en vurke kletter-klap in die menasie. ’n Bekende gesig druk iets in Pieter se hand. Die bekende gesig knipoog. Pieter vou die papiertjie oop.
Die briefie lees: Ek moet ongelukkig vir Kersfees na my ouers toe gaan. Kom ons hou ons eie Kersfees. Ek en jy alleen. Onder die sterre, naby die hemel. Donderdagaand 7:30. Kom deur die woud. Liefde, A. NS: Baie dankie vir die skoene. Ek is mal daaroor!
Adeleit se kop staan pof met al die krullers in haar kop. Pofkop en al klouter sy op en af teen ’n boom wat teen die koshuis staan. Eers is dit kussings, dan ’n kombers, kerse, breekgoed, ens. Dit vat vir Adeleit byna ’n uur om ’n sagte piekniekhoekie op die sinkplate van die koshuis se dak reg te kry. Sy gee nie meer om wie hulle sien nie.
Die wind waai effens en die voëls se laaste liedere eggo deur die takke. Adeleit se wit rok sweef saggies in die skemer. Raafswart krulhare hang oor haar skouers. Sy ontvang vir Pieter by die gat in die draad.
“Jy lyk baie mooi,’ fluister Pieter saggies.
“Ek sien jy het die hakskoene aan. Die tannie by Bogusch het gesê dit is nou hoogmode.” Adeleit glimlag en haar wange word rooi.
“Ek hou baie daarvan.”
Soos bakvissies hou Pieter en Adeleit piekniek op die koshuis se dak. Die sterre weerkaats in hulle oë. Geselsies word grappies; grappies word liedjies en die liedjies word dansies. Donker silhouette tikkiedraai teen die blou van die nag.
Adeleit se skoen hak tussen twee sinkplate van die dak vas. Sy steier en verloor balans. Haar hand gly uit Pieter se hand uit en met ’n skril gil is sy weg. Pieter is koud. Sy hart klop wild in sy keel. Hy gee ’n paar tree na die rand van die dak. Onder op die grond word die wit rok rooi. Langs hom steek die hakskoen vas tussen twee sinkplate van die dak. Die sterre skyn. Die naggeluide sing. Pieter klim val-val teen die boom af in haas na Adeleit.
Vandag is die bome in die woud vervalle reuse. Hulle is naak. Snags hang vlermuise aan die takke. Slange vang muise en uile vang slange. Almal vreet mekaar en mensekind is selde daar te sien. En soms, saans, wanneer die windjie effens waai en die swaaie op die speelgrond kreun, hoor jy Hakskoentjie se tik-tok-tik op die koshuis se dak. Adeleit is opsoek na haar verlore skoen. En, verlore liefde... wat deur ons almal se vingers gly.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie