Otis Finck
Otis Finck

Heeltyd speeltyd!

Otis Daniels
Otis Finck – Terwyl ek onlangs ’n paar slaggate op pad iewers heen met my motor in Narraville se strate soos ’n gesoute 4x4-Vasbyt-deelnemer probeer vermy het, onthou ek hoe ons as jong seuns in die verre verlede, gate in die pad gemaak het vir sommige van ons speletjies.

Voor die aankoms van die “soccer game”, Pac-Man en Donkey Kong by Oom Collin se Oasis, het ons ghoen geskiet totdat die muntstukke wat ons vir die speletjie gebruik, buig.

Silwer- en kopermuntstukke het destyds nog waarde gehad. Ek praat nou van sente, twee sente (beide het al uitgesterf), vyf sente, sjielings (silwer tien sente) en “five bobs” (silwer 50 sente). Sou daar ’n groot blink R1 met die springbok op in jou besit beland, was jy skátryk.

Deesdae word die vyf en tien sente nie meer belangrik genoeg geag nie en word die munte net so op die toonbank of sypaadjie gelos.

Vir ons ghoens het ons ’n ou karbattery gegaps en die lood daar diep in die duine gaan smelt. Vandag word dit vir sinkers gesmelt en teen ’n bedraggie aan hengelaars verkoop.

Die gesmelte lood is dan verkieslik in ’n leë skoenpolitoerblikkie of enige ander blik gegiet om ’n ronde en plat afgewerkte vorm aan te neem. Sodra die lood afgekoel het, is dit uit die houer verwyder en was jou ghoen reg vir gebruik.

Menigte van ons moes met brandwonde huis toe hardloop en ons agterente is dan verder aan die brand geslaan omdat ons nie wou hoor en wegbly van die gevaarlike lood-gesmeltery nie.

Vir diegene wat nie loodghoens gehad het nie, was ’n plat ronde klip goed genoeg om saam te kon speel.

Terug in die lokasie is daar ’n gaatjie in die middel van die soutpad gemaak. Dit was soortgelyk aan die wat vir die skiet van albasters gebruik is, maar bietjie kleiner as die slaggate waarmee ons te doene kry op ons soutpaaie.

Daar is dan tien treë afgetel en ’n dwarsstreep getrek. Die spelers het agter die lyn stelling ingeneem en moes dan probeer om hulle muntstukke in die gaatjie te gegooi. Die een wie se muntstuk in of die naaste aan die gaatjie was, kon die eerste skoot met sy ghoen afvuur.

Muntstukke wat op mekaar en na aan mekaar gelê het, is met jou vier vingers gespasieer. Jy moes dan ’n muntstuk merk en dit met jou ghoen raakskiet sonder om aan ander munstukke te raak of in die gaatjie te stoot, om dit te eien. Indien jy die teiken mis, het die volgende speler ’n kans gekry.

Die geskietery kon vir ure aanhou. Daar is dikwels vuisgeslaan en blou oë (medaljes) uitgedeel. Die soutpaaie in sekere gebiede was altyd vol gate wat op ’n gereelde basis opgevul is en vir die daaglikse wenner was daar ’n goeie verdienste.

Die rooi remligte van ’n voertuig knap voor my ruk my terug na die hede en ek moet vinnig briek trap. Die moedelose mans van die buurtwag het toe wrintiewaar besluit om van die slaggate in die teerpad by ’n bekende winkel toe te stop met nat sand.

A luta continua!

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!