Heimweë oor vergange se dae
Die immerstygende brandstof- en kospryse is ’n kopseer wat my na my kinderdae laat verlang.
Dit laat my terugdink aan Suidwes en dit bring heimweë wat net ek en my ouderdomsgenote nog so helder soos daglig kan onthou. Ek praat nou van die jare waar die rand omtrent meer as drie keer sterker as die Amerikaanse dollar was.
Dit was die jare toe’n donkiekar in die familie ’n luuksheid was en ook soveel meer waardevol was as om vandag ’n Mercedes-Benz te besit.
Tweedens was dit ’n luuksheid om ’n treinkaartjie te kon bekostig, ná ses maande se spaar. Ek kan nog so goed onthou hoe Vaaltyn en Rooibek, my oupa se getroue langafstand-donkies, ’n dag voor die tyd voorberei is voordat ons maandeinde dorp toe kon ry. Die reis was altyd om kos en ander items te gaan koop wat vir die plaaslewe die belangrikste proviand was. Dit het lampolie, tabak, snuif, vuurhoutjies, mieliemeel ensovoorts ingesluit.
Ou Vaaltyn en sy makker het net gras en water nodig gehad om die 30 kilometer met ons almal op die donkiekar veilig na die naaste plaas te bring. Dit is hier waar ons by die buurplaas (wat ’n winkeltjie gehad het) ons goedjies kon koop.
Somtyds het ons tot in Kombat gery wat omtrent 50 myl ver was. In doeriedae tot en met vandag toe het ek nog nooit gehoor van ’n donkiekar wat in ’n ongeluk betrokke was en waarin mense dood of beseer is nie.
Dit was die veiligste en feitlik gratis vervoer wat in ons kinderjare beskikbaar was.
Die heel beste van alles was die telefoon waar jy eers die sentrale moes skakel om daarvandaan deurgesit te word. Jy moes ook goed weet hoe jou telefoon lui, want as jy per ongeluk iemand anders se lui opgetel het, het die sentrale vir jou gesê: “Sit dit neer, dit is nie vir jou nie.” Dan dink ek ook met ’n lag in my binneste terug aan die kere wat ons hierdie oproepe afgeluister het.
Ek glo vas dat grootmense destyds van blikbekers gehou het om hulle koffie uit te drink.
Tydens Kersfees het ons graag trein gery as oupa sy bonus gekry het. Sodanige treinreis verskaf omtrent dieselfde veiligheid as die donkiekar, hoewel dit ietwat geriefliker as die donkiekar was. Binne in die kompartemente was daar darem slaapbanke waarop mens skuins kon lê as die slaap jou oorval het.
Ek dink ook aan kookolie wat nou so duur is en hoe my ma altyd skaapvet uitgebraai het. Ons kon dit dan op ons brood smeer en op koue wintersaande ons lywe daarmee insmeer.
Daardie jare het ons ook ons eie groentetuin gehad, want die naaste vars groente moes uit jou eie tuin kom. As ek die pryse van groente so bekyk, dan moet ek maar teruggaan na die ou dae se leefstyl, want anders gaan ons dit nie oorleef nie?
Ek wonder nou nog net of hulle nie maar weer donkiekarre op ons paaie wil toelaat nie. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie