Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

Herinneringe van 'n klein dorpie ver suid in Namibiё

Theresa van Zyl
Vandag wil ek jou saamvat op 'n herinneringspad om jou vir 'n paar minute deel te maak van daardie kosbare klein-dorpie-belewenis van 'n hele klompie jare gelede. Rosh Pinah is in my oё 'n wegloop-, wegraak-dorpie met baie kunstenaarsiele wat die normale gang van die lewe meemaak, jou op straat groet en dan weer terugkeer na hul eie leefwêreld. Hier voel God náby – dis of Hy tasbaar teenwoordig is in die byna ongerepte natuur wat die dorpie soos 'n muur omring. Die klompie geboue en huise (almal met egte “picket fences” soos in die flieks) kniel aan die voet van 'n groot, magtige berg met 'n verligte kruis en word dan van alle kante omring deur reekse berge wat in enige denkbare skakerings van bloue en perse inmekaar vloei tot aan die horison. Hier maak jou gedagtes weer vir jou sin en jou drome kom een vir een uit hul vergete wegkruipplekke te voorskyn om vir aandag te kom vra. Die voёltjies kwetter en jubel elke dag tegemoet in die suiwerste voёlgesang wat ek nog gehoor het. Vreemde sang, natuurmelodieё wat jou laat stilstaan om die bome te fynkam, opsoek na die lyfie wat sulke soet klanke te voorskyn kan bring. En dan is daar vir my 'n sekere verskuilde romantiek in die mans van die dorp wat in hul “uniforms” van die myn – netjies en regop – soggens 'n uittog het myn toe. Vrouens en kinders bly agter in die dorp, gaan hul gang, doen wat gedoen moet word. Daar word voorberei en uitgesien, gewag vir die tuiskoms van die mans saans. Hulle skouers bietjie laer gesak saans as in die oggend en die klere nie meer so onberispelik netjies nie – maar daar is steeds veer in hul voete en lig in hul oё. Elkeen verdwyn in die kasteel van sy huis om daar die uniform te verruil vir sy eie keuse in klere en dan net te wees – die tuin in te drink, koffie uit sagte vrouehande te ontvang en te wonder hoe die kinders in 'n dag se tyd so kon groei. . . Daar is iets onvergeetliks in die opkyk van 'n kind na sy pa, soekend totdat daardie pa-glimlag kom, daardie groot hande en sterk arms wat mens in die lug kan opswiep om jou weer sag en veilig terug grond toe te bring. In hierdie dorpie is kinders nog kinders wat bal speel, fiets ry en vir ure in sand en modder kan baljaar. Nie vasgenael agter ‘n televisieskerm of verswelg in rekenaarspeletjies of sosiale media nie. Hulle speel en fantaseer in werklikheid, nie in "cyberspace" nie. Hier is nog tuisgebakte koek en beskuit, nie gekoop in 'n tuisnywerheid nie, maar gemaak in 'n huiskombuis met bakke wat deur kindervingertjies uitgelek kan word. Biblioteekboeke ontlok ontdekkingsreise vir jong verbeeldings in plaas van die voorgeskrewe denke van elektroniese beelde. Die grasperke is byna onwerklik groen, die plante opgetooi in hul veelkleurige blomblare en verskuil in digte skaduwees of spatsels sonlig, dat mens nooit weet wat jy kan ontdek as jy mooi kyk nie. Is feёtjies, kabouters, paddastoel-huisies en pratende diere werklik net die skeppings van skrywers se verbeelding? Wie weet . . . kyk self, dalk kan jy die antwoord vind. In hierdie dorpie maak elke mens nog 'n verskil, word jy gemis en voor omgegee. Elk het sy rol, plek en droom om na te volg. Hier kom drome binne bereik en mense is weer volledig teenwoordig – nie skimme agter die wysers van horlosies nie en ook nie voorafgeprogrammeerde robotte wat maar net funksioneer sonder die innerlike meemaak daarvan nie. Hier is huise weer tuistes en tuine speelparke. Mans is weer helde en vroue dames. Drome word nie vergeet nie en geloof, hoop en liefde word die motto in jou siel wat oorloop in jou dae, weke en maande. Gedagtes en mense loop so stil soos seisoene jou lewe binne en laat spore sonder woorde wat die baan weg na môres en oormôres sodat eendag nie meer ver is nie.

- Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!