Hester Steenkamp - Ek sê maar net
Hester Steenkamp - [email protected]
Sit jou sit - ’n Stoel is nie net ’n stoel nie. Dis ’n plek en ’n identiteit en herinneringe. Dis reise en
stories en staaltjies. Dis geskiedenis.
Die ou riempiesbank en sy twee statige stoele is een van die eerste goed wat jy
raaksien wanneer jy by ons huis instap. Dis goed so, want dit verdien om raakgesien
te word. Soms wens ek hulle kon ’n paar vrae vir my beantwoord. Dan sou ek notas
gemaak het vir onthou sodat ek die verhale kon oorvertel, want wat moes hulle nie
alles gesien en gehoor het in ’n honderd jaar nie!?
Die bankie was eerste by my. Die twee stoele het eers later gekom, ná lang reise oor
grense heen. Nou is hulle weer bymekaar. Soos dit hoort.
Dit was my oupa-hulle se stel. Soms sien ek in my verbeelding hoe my oupa op een
van die stoele sit, langs die tafeltjie waarop die telefoon was. Ek sien die portaal op
die plaas in die Otjiwarongo-distrik. Ek sien hoe my ouma konfyttertjies bak in die
kombuis met die Omatako’s wat in die venster geraam is. Ek sien die plaasdam, die
groot swart pot vol mieliepap vir die honde en die groot kas van donker hout met die
lang spieël in hulle kamer. Oupa- en Ouma Plaas. Dis hoe ons vandag nog van hulle
praat en aan hulle dink, en ek dink baie aan hulle.
Oupa het die stel by sy werkgewers gekoop – ’n Joodse familiebesigheid waar Oupa
as jong man gewerk het. Later is die stel plaas toe waar dit vir jare gestaan het.
Nadat die plaas verkoop is, is die stel saam met hulle Windhoek toe. Heelwat later is
die stoele na my tannie toe, maar die bank het gebly. Die stoele het in Suid-Afrika
rondgeswerf van plek tot plek. Eers Johannesburg, daarna Puthaditjihaba, Clarens
en laaste Heidelberg in die Suid-Kaap. Die bankie is van Windhoek af eers Rundu
toe, daarna weer terug na Windhoek, toe Hentiesbaai, en het later ook in Heidelberg
aangekom, maar die bankie en stoele was in twee verskillende huise.
My pa het die bank vir my gegee nadat ons plaas toe getrek het. Die stoele het my
tannie ’n paar jaar gelede vir my gestuur. Dis my erfgoed, want my naam kom van
my ouma af. Van Ouma Plaas af.
Ek is verknog aan die riempiestel. Dis soos ’n tasbare herinnering aan my kinderdae.
Dis asof ek beter onthou as ek daarop gaan sit om vir ’n paar minute stil te raak.
En dis ook nie net ek nie. ’n Stoel is ’n baie persoonlike ding. Dis waarom mense
elke keer op dieselfde stoele in die kerk gaan sit. Of in ’n personeelkamer of
raadsaal. Jou stoel is jou stoel.
Wanneer ek in die kerk sit, kyk ek oor die rye en my oë staan vir ’n oomblik stil by die
leë stoele waar bekendes en geliefdes gesit het, maar nou nie meer hier by ons is
nie, en dan onthou ek hulle. Ek weet presies waar Ouma Maggie gesit het. En oom
Piet en tannie Maria. En oom Giel en sy broer, oom Pieter. Ook oom Kobus en
tannie Drieks. En baie ander. Vandag nog is hulle plekke leeg. Dit maak my
gelyktydig hartseer en gelukkig, want dit is ook maar ‘n manier van onthou en
respekteer.
Ons gesin het ook “ons” stoele in die kerk waar ons elke keer sit. Dis heel agter teen
die muur. My dogter het my ’n paar weke gelede gevra waarom ons juis daar sit, toe
sê ek vir haar dis waar die mense met die stoutste kinders sit. Dit was maar net ’n
grappie, want eintlik was dit reeds oor ons nie die eerste keer wat ons die kerk
bygewoon het, op ander se plekke wou sit nie. Toe word dit ons plek.
Miskien kyk die jonges ook eendag na ons leë plekke en dink dis waar tannie Hester
en oom Johnnie gesit het. Dis soos om iets agter te laat wat joune is, al is dit nie
joune nie. - Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie