Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

Hierdie keer is dit anders. . .

Theresa van Zyl – April, wat gewoonlik met haar ylgroen tjalie en subtiele aanraking van verandering met ’n herfs-kleurpalet begin speel in bome, die naglug net ietwat varser maak en die oggende doop in die reuk van dou, is hierdie jaar ánders.

Soggens is haar tjalie te dun en middae te warm. Het April selfs vir Augustuswind gevra om met sy windasem te kom help, sodat bome se blare-dos die boodskap kan kry dat vroegherfs eintlik al weke gelede aangebreek het? Maar hulle doen nie. Die blare wil nie verkleur nie en hulle weier nog om die takke se greep te laat gaan. Bome en struike buig geduldig in die wind, maar pryk steeds met somerglorie, al is die tyd daarvoor verby.

Is ons – jy en ek – nie soms soos hierdie jaar se April nie? Dis tyd vir ‘n seisoensverwisseling – ’n nuwe een wat nie kan begin voordat die huidige nie oorgegaan het nie.

Soms waai die winde van verandering teen die blare van ons gedagtes, teen ons herinneringe wat bly vaskleef aan die takke van onthou of eie planne.

Blare verwissel van kleure, harte verwissel van seisoene. Hoekom weifel mens dan om die bekende, die gemaksone van gewoonte agter te laat? Seisoene van die hart en die lewe is ’n ritme wat deurleef, agterlaat en dan die nuwe aandurf. Soms word dit ’n seisoen van opwinding, dalk een van oorwinning of selfs een van aanvaarding en berusting.

Elke mens in ons lewe is ook seisoensgebonde. Sommige is bedoel om die pad saam met jou te stap vir ’n enkele seisoen – dalk ’n handvol seisoene, ’n jaar of ’n leeftyd s’n. Die tyd wat daardie persoon bedoel was of is om jou bloeisel-tydperk, jou somer-volheid, jou herfsgloed of jou winter-weerloosheid te deel – is perfek beplan deur ’n groter Hand. Díé Hand wat tyd en planete op koers hou, is ook aan die stuur van jou lewenskoers, asook die geliefdes wat Hy kies om aan jou te leen.

Maar, wanneer hy/sy/jy die doel bereik het waarvoor die verbintenis of band daar was – dan breek die einde van hierdie gedeelde seisoen aan. Wanneer die tyd vir iets verby is, is dit onherroeplik verby. Strek net eenvoudig jou hande en jou hart uit na die nuwe seisoen wat wag om vir jou aan te breek. En moet nooit probeer om terug te keer na jou “ouself”, as Hy ’n nuwe, verbeterde weergawe van jouself ingedagte het nie. Hy weet die beste, want Sy tydsberekening is perfek. Dit was nog altyd so en dit sal altyd so wees.

Voel daarom veilig om nuwe seisoene in jou lewe te omhels vir alles wat dit kan inhou, want selfs dít is nie onbekend vir Hom nie. Dis tyd – vir jou, vir my, vir elkeen, vir almal. Seisoene stagneer nooit, dit bly beweeg na die volgende volheid in tyd – elk met sy eie karakter, stemming en volvoering van ’n droom en ’n doel.

Laat die seisoen wat gereed, tas in die hand staan, toe om te groet en te gaan. Maak die deur van die oue toe, want net dán sal jy die nuwe se klop kan hoor. Gooi dan die vensters van jou wese oop vir wat ook al op jou wag. . . Al stap jy eers net versigtig op die wankelbene van ’n pasgebore bokkie, neem nog steeds die eerste tree. Uiteindelik sal jou siel wel op hoё plekke kan bokspring met die elegansie en selfversekerdheid van ’n springbok.

– Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!