Hoe fyn is jou skale gestel?
Vir baie van ons was Maandag-vroegoggend twee weke gelede maar net nog ‘n gewone nagrus; dalk ‘n aks onrustig, as jy nie na die blou in die begin van nog ‘n week van arbeid uitgesien het nie.
17 minute oor drie, op ons horlosies, het die aarde sowat 7 000 km noord-noordoos van Windhoek sonder enige waarskuwing in ‘n verwoestende oomblik met die mag van byna 36 Hirosjima-atoombomme geskud.
Die eerste bewing het 7,8 op die Richterskaal gemeet. Nege ure later was daar ‘n opvolgsidder van 7,7. Seismograwe het meer as 2 000 naskokke geregistreer.
Vandag kring sulke golwe feitlik dadelik tot in ons voorhuise en werksplekke. Dit kom skok en bewe intiem in die palms van ons hande.
Meer as 46 000 mense het in Turkye en Sirië omgekom.
Die afgryse bly by ons; in hart, verstand en gees. Gepunktueer deur die griffelings van mirakelagtige verhale van hoop en oorlewing.
Die redding van kinders en oumense uit die puin. En ‘n hond wat reddingswerkers waaistert uit die rommel fluit.
Indien ons, vir nou, ‘n herrinnering van 6 Februarie 2023 het, hoe lank sal hierdie geheue hou?
Hoe vinnig kwyn die moderne mense se aandoening?
Tot dit onvermydelik deur nog ‘n ramp of tragedie verdring sal word. In ‘n proses wat homself eindeloos herhaal.
Oor die oorlog in Oekraïene praat baie van ons toenemend minder.
Vrydag is die eerste herdenking van Rusland se inval; ‘n konflik waarin meer as ‘n miljoen mense die wapen teen mekaar opgeneem het, honderde duisende gedood of gewond is en miljoene mense ontwortel is.
Aan die ekonomiese skokgolwe het meer beskuttes en bevoordeeldes hulself reeds gespeen?
Aan dié wat meer uitgelewer aan hierdie geskut is, moet ons pertinent herinner word.
Omdat die kreef immer gewoond aan elke omstandigheid raak?
Op die kruin van die Koue Oorlog en selfs tot in die jare tagtig sou ons waarskynlik wêreldwyd die horries gekry het as supermoondhede links en regs vlieënde voorwerpe met vegvliegtuie begin afskiet het.
Die groter, filosofiese vraag, is hoe fyn ons Richterskale en seismograwe ingestel is. Hoe gereeld yk ons sulke apparate om te toets of dit nog akkuraat werk?
Om die snare te styf te span, kan tot katostrofiese hipersensitiwiteit lei; met psigopatiese afgestomptheid as die uiterste teenpool.
Soms beskuldig ons mekaar van “oorgevoeligheid”. Maar net wie, of wat, bepaal waar die “gesonde” tussen-in lê?
Is ons vreesloosheid gebore uit die geloof dat die mens en sy stelsels te slim geword het om ooit ‘n Armageddon te laat gebeur?
Boerneef het dit oor die lewe in al sy skoonheid en leed gehad toe hy gevra het:
... tussenin begin en end
Word jy die speletjie ooit gewend
Of issit van begin tot end
Meer geluk as wysheid
Dajy hou toddie end?
Sukkel die mens nou, meer as ooit, om die balans – en die begrip – van die goue middeweg te vind?
– Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie