Yolanda Nel
Yolanda Nel

Hoe lewe die ander kant?

Yolanda Nel
Kyk, die lewe is duur. Almal voel die knyp. Baie wonder of hulle hierdie maand ’n wegneemete sal kan bekostig, maar die meerderheid huil in die stilte van hul kamers en wonder waar môre se brood vandaan gaan kom.

Groot was my verbasing toe ek op sosiale media op ’n video afkom waar ’n potjie 500 ml-gesigroom ’n prysetiket van N$42 350 het. Ja-ja, jy het reg gelees. Nou kom ons wees eerlik, ons het al almal gedroom wat ons sou doen as ons ryk grootgeword het, of van geld gemaak is. Maar nooit in my wildste drome sal ek soveel op gesigroom wil uitgee nie. Wat op dees aarde regverdig dit? En al wat ek wil hê, is om nie ontsaglik skuldig te voel omdat ek ’n buisie tandepasta weggegooi het voor ek die onderkant oopgeknip en die laaste bietjie uitgekrap het nie.

Die probleem vir my met sulke luukshede, is dat dit nie ’n eenmalige kopie is nie. Jy moet dit kan volhou. En die prys stop nie daar nie, want jy gaan nie net die gesigroom koop en tevrede wees om jou gesig met net ’n gewone koekie seep te was nie. As jy ingekoop het op hierdie idee, gaan jy mos álles wil gebruik. Ek gaan eerlik wees – ek het hierdie produkte nie in Namibië gesien nie, maar op ’n Suid-Afrikaanse webtuiste van ’n bekende kettingwinkel.

Die 125 ml-gesigwas gaan jou ’n verdere R1 890 uit die sak jaag, en die 175 ml-afskilferaar nog R2 425. Die 50 ml-SPF (want regtig, dis belangrik) kos ’n ekstra R1 825. Die 15 ml-oogserum beloop R 4 925.

Nou kom ons wees realisties en neem aan die persoon koop nie die 500 ml-gesigroom nie, en koop die 60 ml teen R6 295. Jou gesig kos jou nou R14 935 elke drie tot vier maande, wanneer die houertjies leeg word – want glo dit of nie, dit raak leeg. Maal dit met vier keer per jaar, dan kom dit op R60 000 per jaar te staan. Net vir jou gesig! Nou het jou hande, voete, selluliet en die puisie op jou lae rug nog nie aandag geniet nie. Ook nie jou man, jou kind, jou hond, die huis of die koskas nie.

En ja, jy mag dalk nou dink, laat die winkels dit aanhou, wie sal dit koop? 7 255 mense. In Suid-Afrika. Teen ’n afleweringstarief van R75 as jy jou produkte die volgende dag wil hê, want die winkel kan nie eens ’n gratis koerierdiens aanbied nie.

Die mense aan die ander kant kan nie genoeg kry van hierdie produkte nie.

“’n Wonderlike produk,” sê een, terwyl ’n ander skryf, “die produk werk, plein en simpel.” Dit word beskryf as luuks, sag en vertraag veroudering.

Met R60 000 kan ek albei my kinders vir ’n jaar na ’n kleuterskool stuur. Dit is min of meer vyf maande se huurgeld vir iemand wat in ’n drieslaapkamerhuis woon.

Vir die koste van een groot pot(jie) gesigroom, kan ek ’n 2006 Nissan Almera aanskaf. Dit mag dalk oud wees, en al is daar reeds 138 000 kilometer op die klok, gaan ek steeds verder kom as daai room.

Vergeet die huisie by die see. Die nuutste sukses is blykbaar om te kan volhou met hierdie skoonheidskopies in die hoop dat jy oor 42 jaar lyk asof jy 42 is.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!