Gerine Hoff
Gerine Hoff

Hoe toevallig is dit?

Gerine Hoff
Nou die dag kuier mense uit Frankryk by ons. Hulle was nou al ’n paar keer hier en elke keer voor hulle weer uitvlieg, braai ons lekker saam en hoor ons oor al hul Namibiese avonture.

Sodra hulle klaar hier gekuier het, reis hulle altyd eers na ’n ander land, soos Indonesië of Katar, voordat hulle huis toe gaan. Hulle sê dis goedkoper vir hulle om in die buiteland te kuier as om in hul eie land te bly.

Ons gesels altyd in Engels en met hul laaste aand se kuier rondom die braaivleisvuur, begin ons gesels oor taal; hoeveel hulle Engels verbeter het in die afgelope sewe jaar wat hulle hier kom kuier. Dit ten spyte daarvan dat Frans ook eintlik ’n taal is wat wêreldwyd gepraat word, hoe hulle met al hulle reise meestal in Engels gekommunikeer.

Dié gesprek het voortgevloei in ’n toeval: Evelyn vertel hulle was vier jaar gelede in Botswana, waar hulle by ’n kampplek met ’n familie uit Duitsland begin gesels het. Fast forward drie jaar en sy en haar man hou vakansie op ’n klein Indonesiese eiland. Terwyl hulle op die strand stap, ontmoet hulle ’n Duitse paartjie en hulle begin gesels in Engels. Die Duitsers komplimenteer die Franse oor hul mooi Engels en begin vertel oor hoe hulle ’n paar jaar gelede ’n Franse paartjie in Botswana ontmoet het. En raai wat? Dis natuurlik ons Franse vriende!

Nog ’n toeval: Met ons Franse vriende se tweede besoek aan Namibië – ons vriendskap was toe nog in sy babaskoene – loop ons hulle toevallig by ’n vulstasie op Gochas – van alle plekke – raak.

Dit het my laat dink aan ander toevalle: Hoe ons twee verskillende Windhoekse vriende een Oujaarsaand in Pretoria raakgeloop het, en met ’n kamma-skivakansie in Oostenryk (ek kan nie ski nie!) op die “piste” nog ’n Namibiese familie raakgeloop het.

Nog ’n toeval: Ek en my skoonsuster is in dieselfde dooprok gedoop. Ons het mekaar natuurlik eers dekades later ontmoet, want toevallig is haar tannie en my ma al jare lank vriende.

’n Toeval word beskryf as ’n merkwaardige sameloop van gebeure of omstandighede sonder ’n oënskynlike verband. Maar hoe – en hoekom – gebeur dit?

Die Oostenrykse bioloog Paul Kammerer het voorgestel die toeval spruit uit ’n basiese fisiese krag, wat hy “seriality” genoem het. In teenstelling het die psigo-analis Carl Jung hom verlustig in paranormale idees soos telepatie, kollektiewe onbewuste en ekstra sensoriese persepsie, en daarmee die term “sinchronisiteit” geskep. Die finale verduideliking is die wet van werklik groot getalle, naamlik dat enigiets wat moontlik is, waarskynlik kan gebeur as ons lank genoeg wag.

Dink net aan al die mense wat jy al ooit ontmoet het of kontak mee gehad het, soos dat julle saam op skool was, gemeenskaplike vriende het, ensovoorts. Dit kan honderde verbindings wees!

As jy ’n ekstrovert is wat maklik met vreemdelinge praat, sal jy altyd iewers ’n skakel vind.

En as jy nie is nie, sit jy dalk eendag op ’n vliegtuig langs ’n verlore familielid en jy gaan dit nooit weet nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!