Yolanda
Yolanda

Hoe ver wil jy gaan?

Yolanda Nel
My vriendin het onlangs haar doktorsgraad verwerf. Sy stuur vir my die e-pos wat die universiteit aan haar gestuur het.

Ek ken daardie gevoel. Die totale verligting; jy het dit. Jy het dit gedoen. Ek het nou wel nie ’n doktorsgraad nie, maar ek dink die gevoel behoort omtrent dieselfde te wees.

Ek is só trots op haar. Sy moes opofferings vir 13 jaar van haar jongmenslewe maak.

Dan kyk ek na my meestersgraadtesis wat in my boekrak pronk. Ek is trots daarop dat ek ook verder studeer het.

Dan begin ek wonder. Moet ek nie ook my doktorsgraad doen nie? Maar dan roep ’n kind in die agtergrond en ek besef weer eens waar my prioriteit lê.

Ek onthou die lang aande, waar dae inmekaar gevloei het; met navorsing wat al my tyd in beslag geneem het. Ek dink ek het ’n beter verhouding met maande se koerantuitknipsels gehad as met my vriende.

Ek wil, maar ek wil ook nie. Ek lees van ’n wetenskaplike wat homself tot op die uiterste gedruk het om iets te bewys wat niemand anders nog kon bewys nie.

Nicolai Minovici was ’n forensiese wetenskapprofessor. Hy het intensiewe navorsing gedoen oor wat gebeur wanneer ’n persoon gehang word. Sy navorsing het hom só gefassineer dat hy besluit het om sy navorsing te beproef. Om self te voel hoe dit sal voel om so dood te gaan.

Met sy eerste eksperiment het hy ’n versmoringstoestel aanmekaargesit: ’n tou wat deur ’n katrol aan die plafon vasgemaak is, met ’n strop aan die ander punt.

Nicolae het sy kop deur die strop gesit en begin trek. Volgens hom was sy “simptome” dat sy gesig pers-rooi geword het, sy sig is aangetas en hy het ’n fluitgeluid gehoor.

Ná sowat ses sekondes het hy opgehou toe hy voel hy gaan flou val.

Ek hoef byvoorbeeld net my bril af te haal, dan is my sig ook aangetas, maar ek roep nie my kollega en sê: “Help, ek dink ek word gehang” nie.

Hy wou ná sy eerste poging nie tou opgooi nie, en het besluit om ’n assistent te kry om hom by te staan. Hy het die eksperiment nog 11 keer gewaag.

Die verskillende metodes het ingesluit dat sy voete die grond verlaat – soms so hoog soos 2 meter – maar dat die tou nie styf om sy nek trek nie.

Tydens een poging kon hy 25 sekondes uithou. Met sy laaste probeerslag het die tou styfgetrek, maar sy voete het nog nie die grond verlaat nie.

Nicolae het ’n brandpyn in sy nek gevoel (klink vir my redelik voor die hand liggend). Hoewel die laaste eksperiment net vier sekondes geduur het, kon hy vir ’n maand daarna nie sonder geweldige pyn sluk nie.

Ek persoonlik voel hy gebruik die term simptome in die verkeerde konteks. Vir my is dit eerder nagevolge. “Ek kan nie sluk nie, want ek het myself probeer hang in die naam van wetenskap,” is baie meer akkuraat.

Sy ander navorsing het ingesluit die verband tussen tatoeëring en kriminele gedrag.

Latere jare het hy ’n liefde vir Romeense volkskuns ontwikkel. Die professor het ’n liefde vir navorsing gehad en dit bly voed.

So terwyl ek nou vreugde daaruit put om my twee peuters groot te maak, lees ek vir nou eers oor mense soos Nicolae. Wie weet, dalk kom die inspirasie vir navorsing van daar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!