Hoe verduidelik ek dít?
Hoe meer ek myself probeer oortuig dat die internet ’n euwel is, hoe meer dink ek aan al die wonderlike dinge wat die internet in my lewe te weeg gebring het.
Van nuwe tale en wenke om my grimering beter aan te wend, tot nuwe vriende en alles wat ek tans weet oor sagteware om video’s saam te stel – die goeie, die slegte en die bisarre is alles in die palm van jou hand.
Van my naaste vriende is die verste van my af – van Kareedouw en Duitsland tot Mexiko moes ek al talle male Afrkaans verduidelik. Soms as ek probeer om te verduidelik, is ek verbaas hoe laf ons taal eintlik kan wees. My pel in Mexiko het onlangs begin om na Spoegwolf se liedjies te luister en dit het gelei tot die vertaling van lirieke soos “ek is jammer, my ding” – hoe verduidelik ek vir iemand wat nie ’n enkele woord Afrikaans verstaan nie, dat ons soms na ’n geliefde as “my ding” verwys?
En hoekom sê ons “lekker” vir dinge wat nie lekker is nie? As ’n kind sy kop stamp nadat hy gewaarsku is om nie so wild rond te hardloop nie, sou ’n Duitser “genau” uitroep. Genau – presies, soos “dis presies wat ek vir jou gesê het gaan gebeur as jy nie vir my luister nie”. Ons Afrikaners sê sommer net lekker. Dit is nie lekker nie – ’n kind het seergekry.
En dit is nie net wanneer koppe gestamp word nie – iemand het lekker vet geword, dit is lekker warm of lekker koud, iemand is lekker ongeskik, ek is nou lekker moeg. Waar kom ons daaraan?
Waar kom ons aan die soengroet? Ek wil nie familielede soengroet wat ek nou vir die tweede keer in my lewe sien nie! Ek gee nie ’n duit om of hulle my opgepas het toe hulle my laas as baba gesien het nie! Los my uit, omie en tannie.
Nog ’n soort mens wat my maar liewerste kan uitlos, is die soort mens wat ses maande nadat hulle my ontmoet het, vir my sê ek is eintlik nogal snaaks. Eintlik? Besef jy dit nou eers? Al die ander kere wat jy kliphard gelag het, het ek gedink jy gee voor. Dankie dat ek nou sekerheid het.
Toe ek hierdie onlangs tergend vir ’n pel vertel, het hy gesê ek kon ’n rubriek oor die woorde “eintlik” en “mos” skryf. Ek dink egter daar is nie genoeg ruimte in dié rubriek om al die voorbeelde in te sluit wat ek graag “gooiwoordjies” noem nie – woorde wat ons ingooi net vir die lekkerte daarvan. Daar is seker ’n spoggerige linguistiese teorie wat verduidelik hoekom ons dit doen, maar my teorie is ons moet dit net nie doen nie.
Wat beteken mos in elk geval? Die woord – sover ek kan verstaan – is net ’n manier vir my om die drukkersink te mors, want ek kan mos.
As my pel uit Mexiko sou vra wat die woord beteken, sou ek hom mos nooit kon antwoord nie. Mos is mos. Mos is ’n gevoel. Mos is mos ’n manier om jou sin meer gevoel te gee. Hy moet maar net aanvoel wat mos is, want anders sal hy dit mos nooit begryp nie. Is mos?
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie