Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

Hoekom aanvaar ons swak diens so gedwee?

Iets waaraan baie – indien nie alle Namibiërs nie – hul skuldig maak, is swak diens.

Ons rol almal soggens uit ons bed, meeste kere teen ons sin, om ’n paar pennies te verdien. Pennies wat die kinders se mae vol maak, klavierlesse en grimering, eksotiese parfuum en haarverwyderaar om manlief te oë nie te laat dwaal nie. En natuurlik daai paar dingetjies wat jy as belangrik beskou, maar wat dokters hul bes doen om jou van te ontneem.

Dan stap jy by ’n winkel in, wetend dat die N$21 wat jy nou op ’n Engelse komkommer of vier bakkies karamellaevetjogurt sal bestee, nog ’n hengse stap nader is aan die salaris wat die kassiere aan die einde van die maand huis toe vat.

Met jou trollie kom jy op die betaalpunt afgestorm, begin jou inkopies uitpak en kyk met ’n groot glimlag op. Nog vóór jy die hoflike “hallo” kan uitkry, krap die dametjie in haar oor en kyk jou aan asof jy reeds ’n paar dae dood is en ’n verskriklike stank afgee.

“Skuif nader daai goed . Ek kan nie bykom nie.”

O jammer, prewel jy ewe gedwee en skuif die kos nader. Daar piep die sensor en “woeps” smyt sy jou Engelse kommmer weg van haar af en reik na die volgende item.

“Hierdie ding het nie ’n barcode op nie!” skel sy en kyk jou aan asof jy moedswillig die enigste item sonder ’n kode op die rak geneem het, of dalk net omdat jy haar haat en nie wil hê sy moet op ’n luilekkermanier geld verdien nie .

“Gaan kry ’n ander een en maak asseblief net gou.” So asof jy ’n kind is. Twintig dollar armer strompel jy na dié pynvolle ervaring na die uitgang, net vir die deurwag om jou te stop met ’n handgebaar dat jy jou sak moet oopmaak.

Kom jy nog ongedeerd daar verby, loop jy kop teen kop in die bedelaar vas wat vir jou buite die parkeerterrein wag, en dan ook dadelik aandring dat jy hom N$5 gee.

En die dag wat jou geluk met vakansie is, is die dag wat jou paaie buite die winkel met die van ’n grypdief kruis.

Hy verlos jou sommer net daar en dan van jou handsak. Jy gaan ewe braaf na die polisiekantoor om ’n klag te lê. Daar aangekom moet jy eers wag tot die polisiebeampte sy druppende Russian klaar eet, sy vingers afgelek het om dan met glinsterende lippe en ’n pen wat aanmekaar uit sy vetterige vingers glip, jou verklaring te neem.

Twintig dollar armer met ’n gekrenkte ego en minus ’n gebedelde N$5, plus jou laaste taxigeld wat bestee is, onthou jy nou ook dat jy veronderstel is om na die ministerie van binnelandse sake te gaan en te rapporteer dat jou identiteitsdokument voete gekry het.

Nadat jy uur en ’n half in die ry staan, kom jy aan die beurt en net as jy nader wil leun om te groet, gil die klerk dat sy nou van diens af is. Ons moet wat vir die volgende persoon om in te klok. Presies hoe lank dít sal neem, kan geen een jou sê nie.

Hulle weet nie, hy het gou sy Edgars-rekening gaan betaal en daar is ook rye soos hier. Nou is jou geduld heeltemal gedaan. Waarom moet ons tog so dom wees om hierdie swak diens te aanvaar?

Daar is dieptes in die mens wat nie maklik op die oppervlak verskyn nie, maar daar is baie woorde om uiting daaraan te gee. Met tyd raak mens nogal die josie in om jou verdiende boontjies in brakgrond te plant.

So is dit net mense en hul dinge, moet ons dit nou maar net aanvaar?

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!