Hoesê?
Taal was nog altyd een van my groot liefdes. Waar baie ouers deesdae ’n slimfoon of iPad in hul tweejariges se pofferhandjies stop om hulle besig te hou, het my boekwurm-ma my voor die radio neergeplak, ’n Storiemuis-kasset laat speel en vir my die spesifieke boekie wat daarmee saamgaan gegee sodat ek saam met die oom of tannie op die radio kan “lees”.
Ek was skaars uit doeke, en ek sal my liewe moeder altyd dankbaar wees dat sy dié saadjie vroeg geplant het.
Ek moet ook erkenning gee aan ’n wonderlike Afrikaanse onderwyseres wat hierdie passie verder laat groei het. Juffrou Maryna van Zyl (Cloete), dankie vir die eindelose geduld en moeite!
Mettertyd was daar min twyfel dat ek later ’n loopbaan in ’n taalkundige en/of letterkundige rigting sou volg. Dit sou natuurlik gaaf wees as my ma my van tweejarige ouderdom af kon leer om ’n egskeidingsprokureur of breinsjirurg te wees, want dan sou my geldsake beslis nie rondom die 18de van die maand so beroerd gelyk het nie, maar ek sal vat wat ek kan kry.
Dit het toe inderdaad so gebeur, tot niemand se verbasing nie. In dié stadium behels ’n groot deel van my werk dat ek ander mense se werk effens blinkpoets sodat ons as mediahuis darem professioneel kan lyk en ons name nie heeltemal met ’n plank slaan met inhoud wat lyk of dit in die Son-koerant of op Reddit hoort nie. Ons moet immers lyk of ons weet wat ons doen.
Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek is allermins ’n stywelip-taalpuris wat mense vuil kyke gee as hulle so af en toe ’n Engelse woord gebruik (hoewel Binnelanders se huidige draaiboekskrywers volgens my maar effe meer konserwatief in dié opsig kan wees) of woorde in die verkeerde konteks gebruik nie.
Ek leer elke dag iets nuuts oor my moedertaal en ek kan ook die Afri-Engels gooi as ek in die regte geselskap is. Afrikaans is ’n nog jeugdige taal en een van die eerste konsepte wat op universiteit by ons tuisgebring is, is dat taal nié staties is nie, dit verander voortdurend met die tye en pas aan by sy sprekers en omgewing – ’n evolusieproses soos enige ander.
Veral in die lig van die afgelope jare se Covid-nuus, is ek byvoorbeeld ingelig dat ons praat van ’n “uitbreking”, nie ’n “uitbraak” nie. Volgens ’n oudkollega klink laasgenoemde soos iets wat jy doen na ’n aand se gerinkink met jou vriende. Sy is nie verkeerd nie...
Ek verstaan ook dat almal se sterkpunte op verskillende plekke lê. Ek kan weer nie wiskunde doen om my lewe te red nie. Ek kan ook nie ’n instrument bespeel of ’n 100 meter-resies wen nie.
Maar aaklige spelling en swak taalgebruik is een van my groot grille – of “pet peeves” soos hulle dit in Engels noem. Die Facebook-kommentaarhoek is die materiaal waaruit my nagmerries gemaak word.
Ek vra verskoning as iemand aanstoot neem hierby, maar ek voel mense moet ’n basiese speltoets slaag voor hulle toegelaat kan word om kommentaar op sosiale media te laat. Ek kan jou ongelukkig nie ernstig opneem as jy die f-woord met ’n “v” skryf nie; of “waardeer” as “wardeur”. Ek weet nie hoe jy “gistraant” iets kon doen nie, want sover my kennis strek bestaan daar nie so ’n woord nie.
Ek kan lang paragrawe skryf oor sulke “afrguislike” verskynsels.
Ek verstaan nie hoekom mense dit as ’n persoonlike aanval beskou as jy hul taalgebruik korrigeer nie. Jy sal tog wil hê iemand moet vir jou sê as jy met ’n oop ritssluiter of ’n sigbare stuk snot in jou neus rondloop. Volgens my is dit basies dieselfde konsep.
Om nie eens te praat van amptelike dokumente of verklarings wat groot maatskappye of instellings uitreik nie. Enigiemand wat nooit die polisie se amptelike misdaadverslag onder oë hoef te kry nie, kan hulself baie gelukkig ag!
Hierdie is bloot persoonlike smaak, maar ’n man wat nie ’n basiese begrip van spelling en sintaksis het nie, is beslis nie ’n potensiële kandidaat om eendag die pa van my kinders te wees nie. As jy my vra “wats voud” (sonder hoofletters of leestekens), kan jy maar weet ek gaan jou nooit aan my ouers voorstel nie.
Ek vra weer eens verskoning as ek plek-plek snobisties klink, maar is dit soveel moeite om so af en toe ’n woordeboek of speltoetser te raadpleeg?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie