Hope en hope waarheid
Sê maar net 30 jaar gelede
Chris Jacobie – Daar is nou ’n internasionale debat aan die gang oor hoe bepaalde gemeenskappe hulleself op hoogte van sake in hul omgewing moet hou.
Die een groep sê koop koerante, want die feite staan daar swart op wit. ’n Ander sê luister radio, want as die nuus treurig is, is daar darem ’n bietjie musiek om die suur te verdryf. ’n Ander een glo jy moet altwee opsies volg.
Nie een van die drie het my heeltemal tevrede gestel nie en omdat ek in diens van ’n koerant is, het die vraag elke dan en wan bly opduik.
Ek het mense gebel, onbekendes op straat voorgekeer en selfs ’n stuk vleis voor slapenstyd geeët sodat ek oor die saak kon droom soos wat die amateur-wedders oor die wenner van die Durban July droom.
Die antwoord het my steeds ontwyk.
Teen verlede Sondag was ek raadop en besluit toe om my vennoot en regterhand in die tuin, ene Moses, te raadpleeg oor die kwessie wat irriterend begin raak het oor die ontwykenheid daarvan.
Moses het die grassnyer laat staan en my gevra om van die leer af te klim sodat ek kan sien wat op die grond aangaan.
“Ek sal jou ’n koerant in Windhoek gaan wys. Dit is groter as al die koerante saam, adverteer alles onder die son en selfs die bobbejane gebruik hom. Buitendien kos hy niks en is daar nie ’n enkele mens in Namibië wat hom nie kan lees of onmiddellik in die hande kan kry nie.”
Die ou suip so ’n bietjie en raak vreeslik filosofies en waardig. So asof hy en Moses van Egipte dieselfde mens moes gewees het.
By al dié dinge glo hy vas dat die vorige dinge van die lewe in die vorm van raaisels oorgedra moet word voordat dit kan hoop om enige gewig te dra.
“Jy moet Sondae as ons ashope toe gaan om die tuinvullis weg te gooi, nie in die bakkie bly sit oor die vlieë nie. Daar sal jy sien wat aangaan.”
Ek het dit gedoen. Dit was toevallig Valentynsdag ook.
Sommer die eerste hoop vullis het die potensiaal van ’n voorbladstorie, indien nie ’n trefferboek nie, gehad.
Meriete sertifikate, trofeë en twee diplomas het opmekaar gelê. Goed van ’n mens wat jy nie self weggooi nie, maar wat vir jou weggegooi word.
Dit kan mos nie, nie anders nie?
Was die betrokke persoon eendag lank gelede iemand se Valentyn? Die man was duidelik baie vaardig op ’n besonderse gebied en dit was wat hom waarskynlik in die eerste plek vir die meisie aantreklik gemaak het. Die vrou se wraak was genadeloos.
Die iets wat hy as kosbaar genoeg beskou het, beland op die ashoop.
Daarmee gaan hy en die iets waarop hy nog trots was, ashoop toe. By ’n volgende hoop lê ’n agterstallige rekening tussen leë blikkies kaviaar en oesters en Moses se raad begin sin maak. So kom ek agter hoe ek dié “vooraanstaande” vorentoe sal benader.
Op elke hoop vullis is daar iets wat sommer sê wie se hoop dit is. As die hoop bietjie uitmekaar geskop word en die rommel van oud na vars gesorteer word, is daar selfs ’n program van elke dag van die week.
“Moses, nou weet ek!”
Die vullishoop is die koerant.
Dit is akkuraat en koelbloedig in sy eerlikheid. Niks word verdoesel nie en dit kos niks!
–18 Februarie 1993
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie