No Image Caption

Huppelend in my woordwêreld

Theresa van Zyl – Kom stap vandag weer saam na waar ek steeds terugstap in gedagtes. . . op soek na waar my skrywer-wees begin het.

Nadat my ma die deur na die wonderwêreld van die verbeelding vir my daardie maanligaand oopgemaak het, het ek binnegestap en ek kon nog nooit weer die pad terugvind nie. Of moet ek dalk sê – wóú nie?

Hoe weet jy presies waar lê die spinnerak tussen die werklikheid en die fantasie of droomwêreld in jou kop? ’n Spinnerak kan bo-aards mooi lyk in die vroeë oggendson wat in reënboogkleure beweeg binne die skitter van doudruppels op die drade, ingeryg soos diamante. . . Maar, mens kan jou so verkyk aan die prag daarvan, dat jy vergeet van die harige-poot spinnekop wat juis die mooi web gespin het om sy prooi in vas te laat verstrengel, voor hy dodelik toeslaan.

In een van my vroeë skooljare het ’n onderwyseres gesê dat ek skryftalent het nadat ek ’n beskrywende skets oor my ma geskryf het. Die saadjie is in maanlig geplant en met taalvaardigheid, ’n boekwêreld en ’n sterk verbeelding natgegooi. Toe ander meisies begin giggel en bloos, het ek begin skryf. Dit het so deel van my soos asemhaal geword. Op laerskool was ek altyd pouses alleen, omdat ek dit so verkies het. Van buite alleen, maar van binne huppelend in my eie wonderwêreld.

Op hoërskool was ek vet én slim én skaam. . . nie juis ’n gewilde kombinasie vir ’n tienermeisie nie. Ek het baie gelees, hard geleer en geskryf wanneer ek ook al die kans gekry het. Naweke en vakansies was vir my ’n avontuur van skryf. Stories, karakters, die ontknoping van geheime, die ontdek van plekke en mense en emosies. Storieboek-mense. Nie regte mense nie. Storieboek-helde, en ridders op wit perde, nie mans van vlees en bloed nie.

Selfs die fisieke sensasie van skryf betower my. Die grif-grif geluid wat ’n skerppunt-potlood op papier maak. En tik – van ’n “manual” tikmasjien wat my pa vir my aan die begin van my hoërskooljare gekoop het, tot vandag se moderne rekenaars. Tik is vir my opwindend. Dis asof die toetse op die skootrekenaar met die ritme wat ek daarop tik, verander in geheime sleutels en valdeure na ’n ander wêreld. ’n Woordwêreld. Mý wêreld.

Maar, ek het verdwaal geraak. My bestaan het my vervreem van my kopwêreld, want, soos my vriendin so graag sê: “Life happened. . .” En toe is alles skielik so verskriklik ánders as drome, ánders as stories.

My een professor-skrywer op universiteit het gesê dat ’n skrywer eers moet lééf voordat hy werklik sy beste kan skryf. En die “arty English-Lit” professor het gesê dat ’n skrywer net so passievol oor ’n slymspoor as oor ’n traan moet kan skryf. Die goeie en die slegte, die mooi en die lelik alles verweef tot ’n tapisserie van woordkuns wat die lewe weergee as ’n kunswerk ongeёwenaar.

Ek kon nie genoeg kry van hulle kennis van die klassieke wêreld-letterkunde, skrywers en digters nie. Die passie waarmee hulle lesings aangebied het, het my geïnspireer en gefassineer, en terselftertyd verwar.

Hulle het alles van skrywers, “classics” en die vreemdelingskap van die kunstenaar in die wêreld af geweet, maar hoekom was hulle eens in hul mening dat ’n skrywer eers moet lééf en dán moet skryf, nie anders om soos ek doen nie?

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!