Kristien
Kristien

In die gange van ’n Amerikaanse kruidenierswinkel

Kristien Kruger
Aan die begin van ons tyd hier in Amerika het ek gereeld in die gange van Kroger, Walmart en Target verdwaal en het ten minste ’n uur van my dag bestee om al my inkopies te doen. Dit was hoofsaaklik as gevolg van my onkunde en die groot verskeidenheid kruideniersware.

Mens raak vinnig slimmer, dus doen ek nou my inkopies aanlyn en dit word by my voordeur afgelewer. Ek het gedink ek deel met julle ’n paar interessante en vreemde kosfeite vanuit die VSA.

Hier kry jy alles – suiwelvry, glutenvry, vegan – ek het selfs nou die dag plant-gebaseerde eier in die winkel gesien. Dit kom natuurlik in ’n vloeistof en word in ’n bottel verkoop. Nogal met die naam “Just Egg”.

Mens betaal heelwat duurder vir grasgevoerde en vryweiende diereprodukte en dit het allerlei etikette soos “geen preserveermiddels”, “vry van antibiotika”, of “geen bygevoegde hormone”.

Hier kry jy nie net maalvleis soos ons dit ken nie – jy kry gemaalde beesvleis, gemaalde hoender en gemaalde kalkoen.

Ek het selfs die anderdag hoender in ’n blik gesien, soos wat ons tuna in blikkies koop. Klink gevaarlik? Ek weet.

Hier kan jy alle tipe voorafbereide kosse en maaltye koop. Enigiets waaraan jy kan dink, kan jy kry, dit in jou vrieskas bêre, uithaal en binne minute gaarmaak – hamburger patties, frikadelle en wafels; die lys het geen einde nie. Jy kan selfs gaar spek in ’n boks koop.

Die verskeidenheid kase is verstommend. Ek praat nie net van al die fênsie kase soos camembert en brie nie. Die yskaste met die gewone, alledaagse kaas, is ongelooflik. Ons keuse by die huis is gewoonlik tussen cheddar en gouda. Jy sal dalk mozzarella en parmesaan kry as jy gelukkig is, of by Woolies jou inkopies doen. Hier word onder meer American cheese, Peper Jack cheese en Monterey Jack cheese verkoop. Amerika het glo meer as 600 verskillende kase, so die keuses is nimmereindig, maar wat my die meeste beïndruk is die feit dat jy dit in elke vorm kry – blokke, gerasper, skyfies, stokkies, balletjies, en seker nog meer.

Jy kry ongelukkig nie brötchens hier nie, maar wel bagels. Meeste broodroosters het ’n bagel-knoppie wat spesifiek vir die perfekte geroosterde bagel ingestel is. Die gewildste ding om op jou bagel te sit? Roomkaas. Sit ’n stukke heuning-gegeurde, gerookte kalkoen bo-op en oe la la. Daar is selfs ’n spesery, Bagel seasoning, wat spesifiek vir bagels bedoel is.

Oliebolle lyk ook soms bietjie anders hier. Dit het gate in die middel, en indien daar nie ’n gat is nie, is hulle gewoonlik met room, sjokolade of arbeikonfyt gevul en nie net appelkooskonfyt soos die by die huis nie.

Hulle het ook ietsie met die naam “donut holes” omdat dit glo van die deeg gemaak word wat uit die middel van ’n gewone oliebol gehaal word. Dit is natuurlik nie altyd die geval nie, maar hulle is klein deegballetjies wat met versiersuiker of kaneelsuiker bestrooi is.

Texas het natuurlik ’n Mexikaanse invloed wanneer dit by disse kom. Ons geniet die margarita’s, burrito's, taco's en enchiladas. ’n Nuwe kookkuns het ook hier ontstaan – TexMex. Dis ’n kombinasie van Mexikaanse kos en die gewilde Texas BBQ.

Iets wat ook vir ons vreemd was, was die keuse van bykosse by restaurante. Dit sluit in “mac-n-cheese”, aartappelslaai of mielies. Op elke spyskaart sal jy ook gebraaide garnale sien, asook ’n dis “shrimp and gritz”. Dit is soortgelyk aan garnale en krummelpap.

Wegneemkos en voorafbereide disse is baie goedkoper as vars produkte en dit dra seker grootliks by tot die land se vetsug-probleem.

Ek is seker julle het ook nou ’n beter begrip van die oorsake van vetsug in Amerika, maar niemand hier kla nie en wel, ons ook nie. Of eintlik kla ons bietjie. Iemand stuur vir ons biltong asseblief! – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer