Chris Vermaak
Chris Vermaak

In Dorsland se feëland

Sê maar net 30 jaar gelede
Chris Vermaak
Die beroemde Deense skrywer van kinderverhale, Hans Christian Andersen, wat in sy boeke – wat in meer as tagtig tale vertaal is – aangrypende fantasieë getower het uit die natuurlike en die bonatuurlike, sou hom gate uit geniet het in Namibië met die rykdom stories wat deesdae in omloop is.

’n Ware feëland. ’n Storie en ’n feëtjie onder elke klip. ’n Mens hoef nie eens ’n knoop uit te dink nie. Hulle groei as’t ware aan bome – en aan mense se lippe. Baie beter immergroen fantasieë as Hans se ”Lelike Eendjie” en “Die Keiser se nuwe Klere”.

Dis die storie oor die olifantjies wat my inspireer om ’n tweede Hans Christian Andersen te word. Dit het doodonskuldig begin. Mense het na olifante gaan kyk by ’n gasteplaas naby die Noordelike Nywerheidsgebied. Nege van hulle, maar een is intussen oor die groot olifantrivier. Glo die koue. Minstens tien mense sê hulle hoor dat die olifantjies eintlik gaste van die regering is terwyl hulle onder kwarantyn is.

Watter soort gaste, wil ek weet en hoor verder dat hulle baie belangrike gaste is wat na die Olimpiese Spele in Barcelona genooi is. Gaan glo deur die regering teen R4 per kg na Spanje gevlieg word om die Olimpiese Spele vir die eerste keer in die geskiedenis in egte Afrika-styl te open. Want daar’s hoeka meer Afrika-atlete as die blekes. Dis nou uiters gepas, wragtag nuus, dink ek. Behoort sommer ook al die ander atlete te intimideer, ook in regte Afrika-styl.

Dis toe ek in vervoering begin raak, net soos ons vriend Hans. Ek verbeel my ek sit daar en ek sien ons ses atlete heel aan die voorpunt, want hulle moet aan die voorpunt wees as hulle olifante saamgebring het. Hulle loop nie, maar sit op die olifante en elke olifant het ’n landsvlag in sy slurp, al agt van hulle. Een elk vir die ses atlete en twee vir Pendukeni wat die spele bywoon en ook by wil wees om die geraas van die skare te hoor. Elke olifant het ook ’n prop in die uitlaatpyp om die agterste atlete teen giftige gasse te beskerm. Ons eie Frankie Fredericks ry heel voor en waai vir sy ma terwyl hy gerusstellend met sy ryding praat.

Maar Frankie en ander was egter nie bedag op die senuweeagtige afsetter wat in een hoek met sy pistool gepeuter het nie. Die skoot gaan per ongeluk af toe Frankie op die eerste olifant verbykom... ’n Mens moenie ’n storie uitput nie en dis in landsbelang dat dit net daar eindig.

Toe ek meer oor die Barcelona-olifante te wete wil kom, hoor ek dat vier al op pad Spele toe is.

Maar soos altyd, seëvier die waarheid. Die olifantjies is al ’n taamlike tyd gelede deur mnr. W. Delfs, die wêreldbekende Namibiese wildvanger- en uitvoerder uit die Krugerwildtuin ingevoer en bestem vir die Chipperdale-dieretuin in Engeland. Ook mensgewoond gemaak. Vier is wel soontoe op pad in ’n Russiese skip wat glad nie in Barcelona aandoen nie.

Só het die storie op sy bek geval.

Maar daar is baie ander en ek hou veral van die een van die toordokter wat nou die dag in die hof gaan sit het toe een van sy maats van veediefstal aangekla is. Die landdros, een van die manne wat ná onafhanklikheid aangestel is en op ’n plek met ’n onuitspreekbare naam in die voormalige Sowjet-Unie gestudeer het, het hom onmiddellik raakgesien.

Hy kon nie anders nie, want hy het lanklaas so ’n koue oog gesien. Party mense noem dit ’n bose oog – die sogenaamde ”evil eye”. Dié soort oog word nooit geknip nie. Teetyd doen hy toe navraag en vind uit dat die kêrel eintlik die beskuldigde se spirituele regsverteenwoordiger is. Hy hoor ook dat die toordokter nie saamstem met die bewerings dat sy vriend die vee gesteel het nie en dat hy van plan is om die saak “reg te stel” as sy maat skuldig bevind en beboet word.

Daarná kan ’n mens sien dat die landdros se aandag nie by die getuienis is nie en hy kyk baie rond om die koue oog te probeer ontwyk. Hy sweet ook asof dit ’n baie ingewikkelde saak is.

Vra toe vir die aanklaer of daar enige bewysstukke is en beduie dat die vee eintlik in die hof moes gewees het.

Die aanklaer beduie dat die skape – die corpus delicti – opgeëet is.

Toe val die koue oog op hom en hy sê hy verstaan die landdros se probleem en dat die saak nooit voor die hof moes gedien het nie. Dorsland, feëland. – 13 Julie 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!