No Image Caption

Inligting en vertroue

Augetto Graig
Vandag se lewe is propvol inligting.

Ek werk elke dag met inligting en daar is ’n paar lesse wat ek oor die jare geleer het en met julle wil deel.

Eerstens moet ek die verskil tussen goeie en slegte inligting beklemtoon.

Inligting is nooit iets wat op sy eie bestaan nie.

Mense skep inligting deur oor iets te leer en dan daardie kennis te deel, en aangesien mense betrokke is, kan jy nie altyd die inligting vertrou nie.

Enigiemand het die vermoë om inligting te verdraai om hulself te pas, en baie keer doen ’n mens dit sonder om dit te besef.

Daarom is die bron van die inligting van uiterste belang. Wie het die inligting ontdek, en hoe? Dit maak ’n verskil.

Die belangrikste kwessie is egter hoekom hulle die inligting deel. Hierdie rede kleur die inligting in, dit plaas dit binne konteks, dit verander die karakter van die inligting en probeer die persoon aan wie die inligting oorgedra word, beïnvloed.

Kyk byvoorbeeld na die geskiedenis.

Die oorwinnaar skryf die geskiedenis om sy prestasies op te teken, sy bekwaamheid uit te beeld en te wys dat hy beter is. Die afgryslike werklikheid word nooit eerlik opgeteken nie, die onmenslike dinge wat vir daardie oorwinning gedoen is, die onderdrukking van opponente, die marteling van vermeende verraaiers, word gerieflik uitgelaat.

Geskiedenis is op sy beste net een kant van die waarheid. Dit is die aard van die mens.

Ongelukkig word die invloed van mense se geaardheid nie tot geskiedenis beperk nie, maar dit raak alle inligting.

Soms hoor ’n mens deesdae “vertrou die wetenskap”, of soortgelyke spreekwoorde. Wetenskap is egter nooit ’n kwessie van vertroue nie. Dit is die vraag na die waarheid, die soeke na bewyse, die toepassing van idees om te sien of dit werk. In hierdie sin is wetenskap ’n nugter benadering tot inligting, en vertroue gaan glad nie hand aan hand daarmee nie.

In vandag se lewe is die gevaar om inligting te vertrou ’n groter kwessie as ooit tevore.

Daar is deesdae ’n doelbewuste toewyding aan die skep van waninligting, verkeerde inligting, fopnuus en reguit leuens, wat veral op sosiale media versprei word.

Dit kan ook in die tradisionele media gevind word. Selfs uit bronne wat ons in die verlede as vanselfsprekend aanvaar het, kom inligting wat niks goeds vir ons voorspel nie.

Tog is inligting so waardevol dat mens nie daarsonder kan lewe nie. Ons moet weet wat om te doen, waarheen om te gaan, hoe om op te tree, hoe om aan die lewe te bly. Ons het inligting broodnodig.

Dit is hoekom ek hierdie paar lesse met julle wil deel.

Wag voor jy glo. Inligting wat waar is, sal altyd homself bewys. Kry nog so twee of drie bronne en vergelyk waaroor hulle saamstem en waaroor hulle verskil. Maak seker jy verstaan mooi voor jy enige inligting deel. Lig jouself in. Toets die inligting self.

Wees versigtig wat jy glo, en waarop jy jou optrede baseer. Dit maak seer om uit te vind jou lewe is op leuens gebaseer.

Ten slotte wil ek ook hierdie maklike toets met jou deel vir wanneer om inligting te versprei. Vra jouself af voordat jy praat: Is dit wat ek nou wil sê die waarheid? Is dit bruikbaar? Is dit goedhartig? Indien nie, dan is dit byna altyd beter om stil te bly.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!