Is elektrisiteit dan nou ’n verslawing?
Ek kan dit beswaarlik glo dat ’n mens so afhanklik van elektrisiteit moet wees.
Nee kyk, seker nie net afhanklik nie, meer verslaaf sal ek sê. Dit het ek nou die dag besef toe ek tuis kom en die motorhuis se deurknoppie druk en niks gebeur.
Parkeer toe maar vir Appel, my ou groen tjorrietjie, voor die deur. Die ergste van alles is om die huis in hierdie yskoue weer binne te stap. Dit voel skoon of daar geen liefde, geen kos en geen niks is nie.
Soos oudergewoonte word die handsak neergeplak, en ek mik reguit vir die ketel, want dis mos tyd vir ’n koppie koffie saam met manlief.
Gesels-gesels stap ek na die ketel en reik my hand uit na die ketel se skakelaar en druk die knoppie, maar niks gebeur nie. Manlief wat nog tergend sê, my vrou dit sal jou niks help om daai knoppie te druk nie, die krag is af. Ai, die mag van die gewoonte.
Ons het gewag en gewag met die hoop dat die krag een of ander tyd sou aangaan, maar tevergeefs
Ongeveer half sewe die aand moes ons darem ietsie eet. Kry toe maar vir Coke-bottel uit die yskas – ook nie meer só koud nie – en vir brood uit die broodblik en ons drietjies sit en drink Coke en eet ons broodjies. Dit is nou rêrig nie lekker om op ’n koue wintersaand sonder elektrisiteit te sit nie.
Met geen vooruitsig van TV kyk nie en die donkerte wat die huis omhul, is ons drietjies vroeg bed toe.
Die selfone is nog die enigste hoop vir ’n liggie van een vertrek na die ander en om te help teen die rondrollery in die bed (bietjie Facebook) sodat klaasvakie kan intree en tog net asseblief die koue donkernag kan omkry.
Heeltemal vergete dat selfone ook krag nodig het en soos die noodlot dit wil hê, het my selfoon die gees gegee. Nou wat nou, dis dan my wekker wat my die volgende oggend moet wakker maak.
Nee wat, om so afhanklik van iets te wees, maak my sommer moedeloos.
Net daar en dan het ek besluit met my volgende salaris koop ek vir my ’n gasbottel met ’n plaat en gaslampie wat aan die gasbottel kan skroef.
Krag, jy is nie my baas nie. Die koolstoof wag net vir die geleentheid om ook sy plekkie in die Rittmann-woning in te neem. Dan is ek terug soos toe ek op die plaas grootgeword het.
Hoeka is ek mos ’n plaasmeisie van formaat. Ek dink met nostalgie terug aan my kinderjare op die plaas, met kerse, paraffienlampies, primus, koolstoof en koolstrykyster.
Ander mense sal almal seker sê: “Nee o hemel, ek wil dít nie weer beleef nie’, maar ek het tot die besef gekom met alles wat nou so duur raak, dit moontlik ’n oplossing kan wees. Buiten vir die krag wat jou teleurstel, is dit boonop duur ook. Ander opsies begin aanlokliker klink.
Maar al wat ek weet, is dat ek nie weer gevang gaan word nie. Ek gaan nie weer met halfgekookte kos of toebroodjies sukkel ná ’n lang werksdag nie. Ek is nou gereed vir die ding.
Ek wonder wat my kleinkind gaan sê wanneer sy by Oumie kuier en dis net Kersliggies en paraffienlampies en ek wat haar vra om hout vir die koolstoof aan te dra.
Sal dit graag wil hoor!
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie