Kristien Kruger
Kristien Kruger

Jammer tannie Sarie

Kristien Kruger
Vandeesweek het ek ’n storie geskryf wat ek nie eintlik wou nie. Ek het voor ’n dilemma te staan gekom – vertel ek vir die leser van die ondenkbare, wrede dade wat drie misdadigers na bewering gepleeg het of spaar ek ’n 80-jarige oorledene se kinders en familie die nare besonderhede van haar grusame moordtoneel.

As ’n hofverslaggewer is een van my grootste uitdagings om foto’s van beskuldigdes te neem. Hulle vermy gewoonlik oogkontak, steek hul gesigte weg en sommige wys eenvoudig middelvinger, maar Maandagoggend het Andries Afrikaner en Julius Arndt reguit in my lens gekyk.

Hierdie twee mans word daarvan beskuldig dat hulle in 2018 by ’n bejaarde egpaar se huis op hul plaas naby Koës ingebreek het. Hulle het na bewering die 79-jarige man met sy eie geweer geskiet en sy 80-jarige vrou vermoedelik verkrag en glo verwurg.

Met my terugkeer na die kantoor en ons daaglikse middagvergadering, moes ons besluit of ek die storie met sy gru-getuienis gaan skryf of nie.

Ons het besluit dat mense moet weet wat hierdie twee mans en hul medebeskuldigde, Johannes Christiaan, na bewering gedoen het.

Mense moet na hul gesigte kyk en die wreedheid van hul beweerde dade begryp.

Maar soos ek hier sit, wens ek tannie Sarie se nagedagtenis kon dit maar eerder gespaar word. Ek is innig jammer vir haar geliefdes wat dit moes lees. Die seerste gedagte is die vrees, lyding en vernedering wat tannie Sarie moes verduur. Sarie – iemand se ma, suster, ouma.

Hierdie mans is nog nie skuldig bevind nie en daar is nog onsekerheid oor watter een hierdie uiterse bose daad uitgevoer het, maar ek hoop dat hy op die uiteindelike oordeelsdag, genadeloos veroordeel sal word. Ek wil dink daar is ’n spesiale plekkie in hel vir iemand wat bejaardes en minderjariges seksueel misbruik.

Dis vir joernaliste somtyds maklik om hul emosies eenkant te sit. Jy luister, jy gaan terug kantoor toe en jy skryf – klinies en tot die punt. As jy wel later in jou eie huis sit, voel jy ’n vreemde swaar wat op jou neersak, onwetend wat dit is totdat jou man vir jou vra hoe jou dag was. Jy word gekonfronteer met die sterk emosies wat jy heeldag onbewusteloos onderdruk het. Dan besef jy hierdie is werklike mense, mense met gesinne en geliefdes. Dit kon so maklik iemand wees vir wie ek lief is. Dit kon so maklik ek wees.

Jammer tannie Sarie. Jammer vir dit wat jy moes verduur. Jammer dat ek dit moes skryf. Jammer vir hierdie afskuwelike wêreld waarin ons lewe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!