Jan Tuisbly se karretjie
Hester Steenkamp – Elke maand stuur Google vir my ’n tydlyn van waar ek my die laaste maand bevind het, wat die hoogtepunte was, hoeveel kilometers ek gery het, ensovoorts. Dit verskaf vir my baie vreugde wanneer ek dit kry – nie oor die baie plekke wat ek gedurende die laaste maand besoek het nie, maar juis oor ek nié het nie. Dis die tyd wanneer ek my verbeelding vrye teuels gee.
Gewoonlik wanneer ek die e-pos ontvang, sit ek terug en bekyk die storie en lag hardop, want dis wanneer ek my verbeel daar sit so ’n bleek mannetjie met ’n man-bollatjie wat styf bo-op sy kop vasgedraai is voor ’n rekenaar. Sy kop lyk soos ’n teepot se deksel. Hy sit doer ver in Google se gebou in ’n ander land en in ’n ander halfrond. Die lugversorger is lekker koel en die mure liggeel om kalmte te verseker. Hy en sy maats sit op helderkleurige stoele en daar speel musiek wat optimale kreatiwiteit stimuleer. Kort-kort woerts daar iemand op ’n skopfietsie verby. Ek sien hoe sit hy met sy kasjmier serpie styf om die nek gedraai, ’n koppie gekoopte koffie langs die rekenaar en ’n plantjie in die hoek. Ek sien hoe hy na die rekenaarskerm staar en wonder oor my. Dalk voel hy selfs jammer vir my. Want meeste van die tyd is my tydlyn ’n diep hartseer storie. Die lande wat ek besoek het is gewoonlik net een en die “stede”, soos hulle dit so pragtig stel, kan ek op een hand tel. Dis nou natuurlik as jy Gochas en Mariental as stede kan ag. Dis wanneer ek by die hoogtepunte kom waar die groot pret begin. Ek sien dat my drie grootste hoogtepunte in die betrokke maand soos volg is: TrenTyre, Bergh Tyres en Spur Grill (waar ek net ‘n koeldrank gekoop het) – in die stad genaamd Mariental.
Nou, dis nou net hier waar slegs boervrouens met my sal kan vereenselwig. Hulle weet hoe dit is. Hulle sal verstaan. Daar word bitter min dorp toe gery sonder dat ons by ’n bande plek hoef te stop. Dis gewoonlik my eerste stop van die dag om al die stukkende bande af te laai, en dan my laaste stop, sodat ek hulle weer kan oplaai nadat hulle reggemaak is. Gewoonlik is my hoogtepunte Agra, Kaap Agri en Spar. So, hierdie was ’n wilde maand vir my.
Maar terwyl ek so sit en wonder oor my Google mannetjie daar anderkant die waters, wonder ek of hy soms jaloers is op my. Dalk sou hy my lewe wou gehad het. Dalk het hy self gaan google om te sien waar ek bly en hoe dit hier lyk. Ek is seker hy het effens geskrik toe hy sien hier is eintlik niks. Veral as jy die storie so van bo af bekyk. ’n Paar grassies en bossies kan jy van die kant af raaksien, maar van bo af is dit ’n ander storie. Hier is net bruin aarde en panne. Droë panne. Maar ek dink nie hy weet wat panne is nie. Dalk het hy dit ook gaan google. Dalk het hy effens uitgezoem om te kyk of ek nie dalk op die maan bly nie. En dan skud hy sy kop omdat hy nie kan verstaan wat hy sien nie. Ek sien hoe hy terugsit en dink dat hier dan byna geen paaie, geen verkeer en eintlik geen mense is nie. En dan dink hy: Wat soek die stomme vrou daar? En dis dan wat hy jammer voel vir my. Of dalk jaloers. Wie sal weet?
Ek weet daar is nie regtig ’n mannetjie met ’n man-bollatjie nie. Ek weet dis rekenaars wat hierdie e-posse so getrou aan my stuur. Maar hoewel ek nie fisies kan rondrits nie, is daar mos niks fout met my verbeelding nie. O ja, en my Google mannetjie met die man-bollatjie se naam is Stan. Dis kort vir Stanley, maar ons, sy vriende, noem hom net Stan. – Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie