Jy het my verander, liewe Aja
Op die foto wat die wêreld ingestuur is as bewese voorbeeld van hoop en lewe ten spyte van die verwoesting van verkrummelde beton, lê sy ogies toe, ’n fyn bos swart haartjies gefrommel op haar kop, pienkrooi pruilbekkie en kleine handjies in vuisies.
Al wat verklap dat haar aankoms in ’n verwoeste wêreld alles behalwe normaal en gewoon was, is die verband en drip in haar een vuisie.
Liefste baba Aja se eerste onthou is nie van ’n mamma wat haar teen haar bors vasdruk of ’n pappa wat haar voorkop soen nie. Inwoners het Aja wat “wonderwerk” in Arabies beteken, huilend onder stukke beton en stene gevind onder die puin van die woonstelgebou wat sy met haar gesin gedeel het.
Sy was steeds met haar naelstring aan haar ma verbind en is die enigste lid van haar gesin wat die aardbewing in die dorpie Djinderis aan die Turkse grens oorleef het.
Dit is nie net by my wat liefste Aja spook nie, veral snags as ek wonder of sy nou op iemand se bors lê wat haar styf vashou, dalk saggies ’n wiegeliedjie sing en oor haar haartjies streel. Haar bolwangetjies een vir een saggies soen en haar rustig wieg totdat haar ogies toeval van die slaap. Wat die seën oor haar bid en haar gee vir Hom, die Almagtige Wonderwerker wat lewe tussen dood en verwoesting gee.
My liefste Aja is nie die enigste wonderwerk uit al die puin en pyn nie. Daar is die 70-jarige vrou van die Turkse dorp Kahramanmaras wat meer as 121 uur – meer as vyf dae – vasgekeer in donkerte aan die lewe bly vasklou het totdat sy gered is. Dieselfde as ’n 16-jarige seun wat ’n week later onder die puin uitgehaal is, ’n 55-jarige man wat dae vasgekeer was en uiteindelik sy oë in ’n hospitaal kon oopmaak.
Die 17-jarige Adnan Muhammed Korkut was vir 94 uur in ’n kelder in Gaziantep vasgekeer. Hy moes sy eie urine drink en het vertel hy het vyf keer per dag gebid om hoopvol en aan die lewe te bly. Adnan se pa, Mehmet, het vir dae langs die puin van hul huis gesit nadat hy vroeg in die week verneem het reddingswerkers het sy seun onder die rommel hoor beweeg.
In Hatay, een van die provinsies wat hard getref is, is ’n tien dae oue baba, wat byna die helfte van sy lewetjie in yskoue temperature onder die puin deurgebring het, saam met sy ma gered. En in Kahramanmaras is gejubel oor die redding van twee tienersusters (15 en 13), ’n ma en haar tienjarige seun, sowel as ’n vyfjarige kind wat 89 uur alleen vasgekeer was. ’n Twee maande oue babaseuntjie, maar net 60 dae oud en wat eintlik elke twee ure geborsvoed moet word, oorleef 128 ure. Visepres. Fuat Oktay van Turkye praat van die syfers van hoop – 67 – die hoeveelheid mense wat Vrydag in sy land gered is ná meer as vier dae onder metaal en beton.
Mag ons élke dag ’n Aja in ons lewe ontmoet. Want hulle is om ons en by ons. Tussen die pyn en die rommel en die hebsug en die méns wat al hoe minder en kleiner en die eie ek en die ego wat al hoe groter word.
Jy het my verander, my liefste kleine Aja, daar waar jy duisende myle ver van my af is en ons mekaar verseker nooit sal leer ken nie. Maar jy het my weer laat glo wonderwerke bestáán en gebeur elke liewe dag om ons. Mag God jou aanhou seën dat mense aanhou in wonderwerke sal glo.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie